Verlede jaar
Dikding 'help uit' ná Mihalik hit
moordtoneel: Pete Mihalik is in sy duur Duitse motor doodgeskiet. FOTO verskaf  ~ 

DIE moord op die bekende prokureur Pete Mihalik het dié week skokgolwe deur regskringe en die Kaap gestuur.

Mihalik (50) is Dinsdagoggend voor die Reddam House-skool in Groenpunt koelbloedig doodgeskiet. Hy was besig om sy laitie daar af te laai.

Sy agtjarige seun is ook in die voorval gewond.

Twee verdagtes, Sizwe Biyela en Nkosinathi Khumalo, het reeds in die Kaapstad-landdroshof op klagte van moord en poging tot moord verskyn.

Daar was twee koeëlgate in die posh pikswart Merc van die bekende prokureur.

prokkie: Pete Mihalik het in sy lewe baie dodgy karakters verteenwoordig. Foto’s: peter abrahams

Mihalik was alom bekend daarvoor dat hy in hoëprofielsake talle dikdinge in die onderwêreld verteenwoordig het.

Onder hulle was Ralph Stanfield, vermeende 28’s-bendebaas, die broers Jerome en Colin Booysen, die vermeende wapenhandelaar Irshaad Laher en die veronderstelde underworld kingpin Nafiz Modack.

Mihalik het Jason Rhode, die multimiljoenêr wat daarvan verdink word dat hy sy vrou vermoor het, ook verteenwoordig.

Aanvanklik het baie mense geglo die hit op Mihalik het te make met sy bendebande.

En toe kom die skok: Dit is al die tyd taxi-verwant!

beslis: Hanif Loonat sê die hit op Mihalik was ongetwyfeld taxi-verwant.

’n Taxibaas van Khayelitsha sit dalk agter dié moord.

Hanif Loonat, voormalige voorsitter van die Wes-Kaapse Polisieraad, sê ’n mens sou dink met die baie gangster-sake waarby Mihalik betrokke was, het dié konneksie hom ingehaal.

“Maar die hit op Mihalik was definitief taxi-verwant. Ek was persoonlik by die ondersoek betrokke.

“Hierdie moet ’n wake-up call vir baie prokureurs wees, want jy maak dalk baie geld uit sulke mense as kliënte, maar dit is short-lived,” waarsku Loonat.

besig: Jerome Booysen was besig om die opening van sy nuwe club te reël en kon nie oor die skietery van sy voormalige lawyer praat nie.

Donkie

Son op Sondag het betroubaar verneem een van Mihalik se vermeende gangster-kliënte het sy lyk gaan uitken.

Dié dikding se vrou was glo ook hospitaal in en uit om na die gewonde seun om te sien.

Son op Sondag wou ook by Jerome “Donkie” Booysen verneem hoe hy oor die dood van Mihalik voel.

Booysen was egter nie in die mood vir gesels nie.

“Ek is ongelukkig baie besig met die reëlings vir die opening van my nuwe nagklub en het nie nou tyd vir gesels nie,” het Booysen laat weet.

kliënt: Ralph Stanfield was ook een van Mihalik se vele kliënte. Foto: netwerk24

Verskeie regslui, asook die Kaapse Balieraad, het hulle skok oor Mihalik se dood uitgespreek.

Die hit op Mihalik herinner sterk aan dié van die criminal defence lawyer Noorudien Hassan.

Hassan is twee jaar gelede buite sy huis in Lansdowne vermoor. Niemand is tot dusver in verband met die moord op hom aangekeer nie.

  • Intussen het pres. Cyril Ramaphosa en Bheki Cele, minister van polisie, Vrydag die polisie se nuwe bende-eenheid om bendeaktiwiteite in die kiem te smoor, in Hanover Park bekend gestel. Lees meer hieroor in môre se Son.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters