15 dae gelede
Die Woord kry 'n nuwe way
In gebed: Die mense bid terwyl hulle ’n fisieke afstand behou.Foto’s: Melinda Stuurman  ~ 

MET vlak 4 van die lock­down word Suid-Afrikaners toegelaat om tussen 06:00 en 09:00 in die buitelug te oefen.

Maar plekke van aanbidding, soos kerke en moskees, bly toe.

’n Groep broeders en susters van die Mount Hope-kerk en ander kerkleiers het nou begin om Covid-19 met gebed te beveg terwyl hulle hul daaglikse stapsessie doen.

Die kerk, alombekend as “die blou kerk”, is in Mitchells Plain geleë.

Die lidmate en leiers het op dié bidstrategie besluit nadat die getal mense met die virus onder lede skerp gestyg het.

Mitchells Plain is een van die hotspots in die Kaap. Teen Saterdag was 784 mense in dié gebied reeds met die nuwe corona-virus besmet.

Deelneem

Lidmate van die kerk en dwelmverslaafdes wat aan die kerk se drie maande lange rehabilitasieprogram deelneem, loop elke oggend en bemoedig mense wat op pad is werk toe.

Volgens past. Alfonso Shilder is die mense wat aan die dwelm-rehab-program deelneem, meestal eks-gangsters en voormalige drug dealers.

Hulle loop, bid en sing lofliedere vir mense om hulle teen Covid-19 te beskerm. Dié lopende gebedsessies vind soggens in die toegelate oefentyd plaas.

Shilder, wat in Woodlands woon, sê: “Ek het met die inisiatief vorendag gekom oor die kerke toe is. Ons stap elke oggend so 5 km vanaf die kerk en terug.

“Elke oggend doen ons ’n ander roete om meer mense te bereik.

“Ons bemoedig ook die mense, veral die cops en noodwerkers wat op pad is werk toe.

“Tydens die lockdown is die kerke toe, maar ons het ’n ander manier gevind om ons geloof te beoefen.

“Dit is moeilik om die gemeente tydens die lockdown bymekaar te hou.

“Ek sit gewoonlik my Sondagpreek in die sosiale media en versprei dit onder ál die gemeentelede.”

Volgens Shilder gehoorsaam hulle die lockdown-regulasies. Almal dra ’n masker en handhaaf ’n afstand van mekaar.

Nog ’n apostel van Mitchells Plain, Fredrico Hendricks, sê: “Terwyl ons in die oggende draf en oefen, sing en bid ons ook teen die corona-virus om ons mense te beskerm.

“Dit het al na ander gebiede en plekke uitgebrei.

“Die ‘jog and pray’-sessies in die oggende is ’n nuwe manier waarop ons tydens die lockdown uitreik na ander.”

’n Ander lid van die gemeente, Quinton Jacobs, sê: “Ons het die virus aan die begin as ’n grap afgemaak. Noudat so baie mense in Mitchells Plain met die virus besmet is, besef ons dis ’n ernstige saak.”

Nog ’n lid, Andrew Rietmuller, sê: “Ons bid vir die Here se seëninge en dat Hy ons beskerm in die tyd van die corona-virus.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters