19 dae gelede
Dié apartheid nog in Strand
in die kollig: Die Morkel Stadion moet vir almal oop wees, meen die klubs.  ~ 

‘ONS is nou al 25 jaar in ’n demokrasie waar almal gelyk is voor die Grondwet van Suid-Afrika, maar in die Strand heers rugby-apartheid steeds.”

So sê Shakoor Vallie, ’n onderwyser en skolesportorganiseerder in die gebied.

“Rugbyspelers in voorheen benadeelde gebiede moet steeds aan die agterspeen van die Kaapse stadsraad drink,” sê Vallie.

Hy reageer op die voorval van twee broers van Garden Village in Somerset-Wes wat ná ’n WP-klubrugbystryd tussen Helderberg en All Saints aangerand is.

Alleenreg

Die twee moes kaal huis toe loop nadat hulle aanvallers hulle van hulle klere en selfone beroof het.

Volgens Vallie is die tyd lankal verby dat die rugbyklub Helderberg die alleenreg het om die sportgeriewe by die Strand se Morkel Sta­dion te gebruik.

Hy sê dis bekend dat die klub ’n langtermyn-huurkontrak met die stadsraad het, terwyl bruin klubs soos St. George’s, Strand United en Pioneers met derdegraadse geriewe tevrede moet wees.

Hy sê die Stad het nog niks gedoen om die sportterrein by Gustrouw en die Kraal op te gradeer nie.

“Die huurooreenkoms moet nietig verklaar word sodat almal by die Morkel Stadion kan speel,” sê Vallie.

Gershwin Leyds, voorsitter van die rugbyklub Strand, sê hy ondersteun Vallie. Volgens Leyds is dit ’n skande wat die spelers moet deurmaak.

“Met die aanbreek van ons demokrasie is daar in die Paarl besluit dat almal die sportgeriewe daar sal gebruik. Hoekom nie hier in die Strand ook nie?” wil Leyds weet.

Janine de Lange, die voorsitter van St. George’s­, sê hulle is keelvol, want hulle het niks geriewe om van te praat nie.

Die klub maak van die Gustrouw-geriewe gebruik, maar sukkel om te oefen omdat daar gereeld probleme is met die flood lights.

“Behalwe vir die ligte, is daar nie ’n kiosk of ’n ordentlike plek om ons gaste te onthaal nie. Die vrouetoilette bly ’n probleem,” sê De Lange.

Ook die rugbyklub Strand United, wat van die Kraal gebruik maak, sê hy ondersteun Vallie en dit moet so spoedig moontlik plaasvind dat die Morkel Sta­dion oopgestel word vir ander.

Zahid Badroodien, die Stad Kaapstad se maycolid vir gemeenskapdienste en gesondheid, sê die raad het geen kontrak of enige memorandum van verstandhouding met die Helderberg-rugbyklub as die alleengebruiker van die Morkel Stadion nie.

Badroodien sê die stadsraad stel voor die rugbyklubs moet saam met die WP-rugbyunie sit.

Hy sê ook sy departement het “geen onmiddellike groot ontwikkelingsplanne, behalwe algemene instandhoudingswerk, vir Gustrouw, Kraal of Morkel nie”.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters