7 dae gelede
Deals verbonde aan ’n dag verg dat jy kop hou
Lynette Francis  ~ Foto Verskaf

MÔRE is dit Kuber-Maandag. As jy voel jy het nie gescore met Black Friday deals nie, het jy die opsie om aanlyn te soek.

Handelaars bied eksklusiewe aanlyn discounts aan en dit word gewoonlik gesien as die nie-amptelike begin van aanlyn Krismisverkope.

Dink daaraan as die tjieng-tjieng-tjieng van kasregisters, maar net aanlyn.

Verlede jaar het Suid-Afrikaners oorsese kopers ore aangesit, want ons het die meeste spandeer op Swart Vrydag.

Ek sal nooit verstaan hoe jy vinniger by die special uitkom as jy voor die winkel se deur staan nie.

Daar in Worcester se mall hardloop die mense amper die sekerheidswagte uit die pad uit vir ’n sale.

Ek verstaan nie die stormloop vir ’n produk nie. Miskien is dit omdat ek ook nie likes om in ’n ry vir ’n buffet te staan nie.

Ek is orrait om saam te leef met die fomo (fear of missing out).

Verbruikerskuld

Maar terwyl ons so skarrel vir Swart Vrydag-produkte is ons geldsake in die rooi. Die land s’n ook.

Ons nasionale verbruikerskuld staan op R1,72 biljoen. Maar steeds sit ons al die uitgawes op die never-never-kaart en swish asof ons die lottery gewen het.

En ons het nie.

Vra maar die meer as ses miljoen werkloses.

Hoe gaan ons vir die aankope betaal? Oor 12 maande, 24 maande of tot die volgende Black Friday kom?

Ek weet nie hoeveel mense hulle deals môre aanlyn gaan beklink nie, want gemeet aan die toestroming van verbruikers, lyk dit asof mense steeds die trollies wil stoot en dit nie net in ’n virtuele mandjie aanlyn wil plaas nie.

Daar is omtrent 2 000 malls landwyd en window shopping is vir baie nog ’n treat.

My vriendin in China doen ál haar inkopies aanlyn (die weeklikse groceries ook) en laat dit dan aflewer.

Sy weet nie wanneer laas het sy haar voete in ’n winkel gesit nie.

Miskien het die voorkeure te doen met jou inkomste. Jy moet data of ’n wi-fi connection het om so aanlyn van een app na die ander te surf.

Deesdae boer mense op Etsy, eBay, Amazon, Wish en AliExpress en koop alles van weaves tot garters vir die troue.

Madam het dit ook dié week gedoen en wag nou in spanning vir dié kopies om afgelewer te word.

En wat het ek gekoop? Oorbelle, rokke, meestal goed vir die strooimeisies en skoene.

My verloofde leer my nou hoe om te bie op eBay.

Ek het een paar skoene vir ’n pond gekoop en het nou my oog op ’n paar Jimmy Choo’s wat ek watch (ja, daar is ’n kategorie vir watchers, hehehe).

Ek het net een Black Friday special gesien en gekoop. Dit was ag ure vir troufotograwe, twee van hulle nogal, en ek het minder as R10 000 betaal.

En om my blessings te kroon, het ’n kollega aangebied om my videografie te doen en die ander een wil DJ.

As jy hierdie winskopies wil slaan, moet jy jou tuiswerk doen en die specials dophou.

Dronk

Jy moet met jou kop werk en nie toelaat dat hierdie winkels jou inkatrol nie. Hulle bied sweeteners aan sodat jy jou lyf in ’n taxi kry en mall toe gooi.

As jy eers daar is, raak jy sommer dronk op die feeling van shopping, die geur van boerewors rolls, die Christmas carols en die gelag van mense wat happy is; kaantie moet jou debietorders nog afgaan.

Onthou net, Krismis is nog eers oor 24 dae en Januworry wink!

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteits­program Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die dinge waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters