17 dae gelede
Dankiedag is vol pret en baie lag

DRAKENSTEIN se Assotiation For Persons With Disabilities (APD) het onlangs ’n dag vol pret beleef.

Die Drakenstein APD is in Simondium geleë.

Tweedejaarstudente in sportbestuur en lektore van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (CPUT) was deel van die dag.

Die studente besoek hulle vrinne by die APD elke Dinsdag. Al is baie van hulle liggaamlik gestrem, is hulle geesdrif uiters aansteeklik.

Die studente het hulle dank teenoor hulle APD-pelle betoon deur ’n pretdag te reël. Games, workshops, musiek en ander vermaak is aangebied.

Garth Abrahams (32) van Wellington was in sy noppies.

“Die dag is ’n jaarlikse instelling waar ons vir die APD dankie sê omdat ons hulle perseel en geriewe die hele jaar kan gebruik om ons prakties te doen.”

Dit was omtrent ’n gewoel – met boeresport, dance-offs en balsport. Die vreugde en waardering op die APD-vriende se gesigte was duidelik. Hulle het dit omtrént geniet.

Die uwe was bevoorreg genoeg om dié event op ’n snikhete Bolandse lentedag by te woon.

“Volgens my was die dag ’n reuse-sukses,” sê Rudi September (22) van Bonnievale. Hy was in beheer van die aktiwiteite.

“Ons het ’n Amazing Race­tema gehad. Al die aktiwiteite is daarop gebaseer.

Droom

“Dit was great om deel te wees van so ’n high-energy-dag. Dit het definitief die gees van elke APD-student gelig.”

Die geleentheid het sy klasmaat Crystelle Rheenis (21) van Worcester aan die dink gesit.

“Die dag het vir my beteken om terug te gee aan mense wat elke dag net daarvan droom om normaal te funksioneer.

“Dis belangrik om dankbaar te wees vir hoe God my en die res van my klasmaats geskape het. Dit was ’n dag van teruggee sonder om iets terug te verwag.

“Die APD se deure staan altyd oop vir die publiek.

“Almal daar toon waardering as ’n mens ’n tydjie daar saam met hulle deurbring.”

Almal het aan die einde van die verrigtinge ’n sertifikaat en maaltyd ontvang voordat hulle mekaar met waterbomme bestook het. Vet pret!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters