12 dae gelede
Crèche in knyp oor befondsing ophou
ONGELUKKIG: Die crèche se prinsipaal, Carina Januarie (derde van regs), en haar personeel het weens die departement se staking van fondse ’n volle ses maande laas gepay.  ~ Foto Verskaf

CITRUSDAL. – Vir die afgelope ses maande gaan dit broekskeur by ’n local crèche wie se befondsing opgedroog het.

Vir die afgelope 28 jaar kyk die Babbel en Krabbel Bewaarskool hoofsaaklik na die kindertjies van seisoenwerkers. Kindertjies wat andersins nie toegang tot voorskoolse ontwikkeling (ECD) sou gehad het nie.

Die 130 peuters kry elke dag twee maaltye wat hulle andersins nie by hulle huise sou kry nie.

Elke dag steek die gewillige personeel uit vir werk. Personeel wat die afgelope ses maande nie ’n krummel salaris ontvang het nie.

Dít alles weens die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling (DMO).

Babbel en Krabbel se prinsipaal, Carina Januarie, klink omtrent moedeloos wanneer sy oor hulle erg benarde situasie praat.

Volgens Januarie het hulle gelde­like sorge begin toe die maatskappy wat hulle herregistrasie op die DMO se ECD-databasis moes behartig, voete gesleep het en die departement toe sy befondsing aan die crèche opgeskort het.

Lieg

“Ek weet nie meer wat om te doen nie,” vertel ’n raadop Januarie.

“Ek weet nie meer wat om vir my personeel te sê nie, want dit voel al vir my hulle dink ek lieg as ek sê die departement sloer met die befondsing.

“Die DMO-mense antwoord nie hulle telefone nie, maar het per email laat weet dat ons befondsing weer op 25 November geaktiveer sou word. Hierdie datum het gekom en gegaan, maar steeds was daar geen sien van hierdie fondse nie.”

Januarie sê sy voel jammer vir haar personeel en die kindertjies wie se ouers dit nie te breed het nie.

“Die ouers is seisoenale werkers wat net ses maande van die jaar werk.

“Hier en daar het plaaslike besighede ingespring om ons te help om die pot aan die kook te bring, maar dit is ’n benarde situasie.

“Ek voel lus om ál die kinders en personeel Kaap toe te vat na die DMO-kantore en daar te gaan sit totdat hulle die probleem oplos,” het Januarie gesê.

’n DMO-woordvoerder, Joshua Chigome, sê Babbel en Krabbel se registrasie by hulle het reeds in Maartmaand verval.

“Gevolglik is die befondsing opgeskort,” verduidelik Chigome hulle besluit.

Hy sê Babbel en Krabbel se registrasie is intussen weer geaktiveer en hulle befondsing sal weer middel-Desember beskikbaar wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters