20 dae gelede
Couple stap ’n ver pad saam
saam-saam: Die liefde blom nog tussen Gérard en Sylnita, wat mekaar op varsity ontmoet het.Foto: eldridgejason  ~ 
jy kan ook: Sylnita Swartz-Filies sê sy en manlief se geheim is dat hulle alles sáám aanpak. Foto: eldridge jason
prestasie: Die egpaar is nou behoorlik ghoeroes in arbeidsterapie nadat hulle hulle PhD saam voltooi het. FOTO verskaf
saam-saam: Die liefde blom nog tussen Gérard en Sylnita, wat mekaar op varsity ontmoet het.Foto: eldridgejason

HULLE koppe is dalk ná hulle prestasies in die wolke, maar hulle voete is plat op die aarde.

Gérard Filies en sy vrou, Syl­nita Swartz-Filies, het dié week geskiedenis gemaak. Hulle is die eerste couple wat hulle PhD aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) saam behaal.

Hulle is reeds 20 jaar getroud en woon in Soneike, Kuilsrivier. Hulle spog nou albei met ’n doktorsgraad in arbeidsterapie nadat hulle Maandag saam ge­graduate het.

By Son op Sondag se besoek aan die egpaar se huis is die verslagspan gul ontvang.

“Ons weet nie eintlik waaroor die bohaai gaan nie,” sê Sylnita.

“Ons is maar gewone mense wat ons nie verbeel dat ons kwalifikasies ons beter as ander mense maak nie.

“Ons groet almal – van die mense wat in ’n winkel shopping tot die mense wat die rak pak.”

Hulle het op kampus ontmoet terwyl albei arbeidsterapie aan die UWK geswot het.

“Ek was al in my tweede jaar toe Gérard ’n eerstejaarstudent was,” onthou Sylnita.

“Ek het altyd met die eerstejaars op fieldwork trips gegaan en ek het Gérard altyd geterg omdat hy so verskriklik stil was. En oh my word, toe raak die tergery ’n lekker vriendskap.

“En op ’n dag vra hy my om uit te gaan. Ek was so geskok.”

Die egpaar het ná drie jaar van speen verloof geraak.

“Ek is ’n meisie van Ceres en Gérard is van Rondebosch. Aan die begin het ek Afrikaans met hom gepraat, en hy Engels met my.

“Ons het ’n outydse troue gehad in Ceres se stadsaal.”

Gérard sê hulle lag maar as mense vra of dit moeilik was om te juggle tussen werk, ’n gebalanseerde gesinslewe met hulle twee kinders en die voltooiing van hul PhD.

Albei is verbonde aan UWK se departement arbeidsterapie.

“Vir ons was dit nie moeilik nie. Niks is moeilik as jy ’n passie vir iets het nie,” vertel Gérard.

“Maar ons glo aan ’n balans. Selfs al het ons ’n draai met die kinders by Seepunt se Promenade gaan maak, sou een van ek en Sylnita deur ons notas gaan, terwyl die ander een bestuur.

“As jy gefokus is op wat jy in die lewe wil bereik, dan kán jy dit doen.”

Sylnita voeg by: “Een van die redes hoekom ek die Swartz-gedeelte in my van wou behou, is om eer te gee oor die rol wat my ouers en familie in my opvoeding gespeel het.

“My pa was nie ’n geleerde man nie, maar hy en my familie het alles in hulle vermoë gedoen om seker te maak ons kinders kry gelerentheid.”

Niks is vir die egpaar lekkerder as om saam met hulle kinders, familie en vriende pretensieloos deur die lewe te stap nie.

“Ons admire ons familie en vriende vir die mense wat hulle is. Jy hoef nie hooggeleerd te wees om ons vriende te wees nie,” sê Gérard.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters