2 maande gelede
Cosatu: Eskom-diewe moet boet
praat sterk: Die nuwe Wes-Kaapse Cosatu-sekretaris, Malvern de Bruyn (links), begin met ’n nuwe besem skoonvee. By hom sit die provinsiale voorsitter, Motlatsi Tsubane (middel), en sy adjunk, Andile Ngqabeka (regs). Foto: jonathan lestrade  ~ 

ESKOM het die reg gekry om daylight robbery teen die armes te pleeg.

So sê die vakverbond Cosatu nadat die Nasionale Energie­reguleerder van Suid-Afrika (Nersa­) elektrisiteitsverhogings vir hom goedgekeur het.

Suid-Afrikaners sal 9,41%, 8,1% en 5,2% meer moet betaal oor die volgende drie jaar.

Die voorsitter van Cosatu in die Wes-Kaap, Motlatsi Tsubane, het Vrydag met skok gereageer op dié “groen lig om die armes uit te buit”.

Sukkel

Tsubane sê: “Ons weet die verhoging was onvermydelik, maar dié increases vir die volgende drie jaar is te hoog.

“Pleks daarvan om die heersende ekonomiese toestande in aanmerking te neem, gee Nersa vir Eskom die reg om die armes te beroof van hul karige inkomste.”

Eskom sukkel die laaste paar jaar om krag op te wek en het dié week gemaan dat beurtkrag dalk weer binnekort in die vooruitsig is.

Volgens getuienisse voor die Zondo-kommissie van ondersoek oor staatskaping die afgelope twee weke het Eskom miljoene rande onreëlmatig aan die omstrede Gupta-familie betaal.

Tsubane meen: “Jy kan nie Eskom se probleme op die gewone mense se skouers plaas nie.

“Die­gene wat Eskom se geld gesteel het, moet gestraf word daarvoor.

“Die inwoners gaan nou dubbel suffer omdat die petrolprys onlangs ook verhoog is.”

Die ekonoom Dawie Roodt sê die elektrisiteitsverhogings kan die laaste spyker wees in die verbruikers se doodskis en dié van die land se ekonomie.

Roodt sê: “Die bitter ironie is dat dié verhoging die eerste is van nóg goedgekeurde increases vir die volgende drie jaar.

“Dit is nie meer genoeg om ’n Eskom wat gebreek en bankrot is, te red nie.”

Hy reken die enigste oplossing is dat die regering Eskom se skuld van R420 miljard oorneem.

En dan moet die regering 30 000 werkers afdank, salarisse in die algemeen verminder en van voor af begin.

Die DA se skaduminister van staatsmaatskappye, Natasha Mazzone, veroordeel die verhogings.

Mazzone skryf dit alles toe aan roekelose wanbestuur deur die ANC-regering.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters