15 dae gelede
Cop getuig in hof oor dapper arrestasie
Lindokuhle JanuaryFoto: theo jeptha  ~ 

’N COP het Vrydag getuig hoe hy, ’n kol­lega en ’n security guard ’n vermeende gewapende rower meer as twee jaar gelede vasgetrek het.

Awonke­ Yako (20) is een van vier verdagtes wat op 29 Julie 2016 na bewering ’n gewapende rooftog in die Greenacres-winkelkompleks uitgevoer het.

Yako, Lindokuhle January (21), Olwethu Dlanga (21) en Lonwabo Maweni (42) pleit onskuldig op aanklagte van onder meer moord en roof met verswarende omstandighede.

Fischer’s Jewelley is die dag beroof en ’n slagoffer is dood in die daaropvolgende skiet­voorval.

Gehardloop

Konst. Lonwabo Mhauli het getuig hy en ’n kollega was in die omgewing van Greenacres terwyl die rooftog uitgevoer is.

Mhauli sê skielik het mense bevrees uit die kompleks gehardloop. Van hulle het aan hom en sy kollega gesê daar’s ’n voorval binne.

Hy het getuig dat hy drie mans – wat hy as January, Dlanga en Yako identifiseer – sien uitkom het.

Mhauli sê twee van die mans het vuur­wapens gehad.

Hy en sy kollega het die drie mans agternagesit toe hulle tussen die voertuie in die parkeer­terrein gevlug het.

Mhauli het getuig hulle het teruggeskiet toe op hulle gevuur is.

By ’n Volkswagen Golf in die parkeer­terrein het een van die verdagtes, wat geklee was in ’n grys top en grys broek, die agterdeur van die kar oopgemaak.

Nóg ’n man het naby die kar gestaan. Mhauli sê toe hulle gewaar is, het die twee mans weg van die kar gevlug.

Dis toe dat hulle die twee met ’n polisievoertuig agternagesit het. Mhauli sê hulle kon Yako in daardie stadium nie sien nie.

Uitgewys

Dis toe hulle naby die Cell C-gebou was, het Mhauli getuig, dat hulle Yako oor Kaapweg sien vlug het in die rigting van Westview Drive.

Mhauli sê hulle het Yako uitgewys aan ’n security guard van Atlas Sekuriteit, wat in ’n voertuig voor hulle was.

Hy het getuig die security guard het Yako vasgetrek, waarna sy kollega hom in hegtenis geneem het.

Hy sê Yako het hulle meegedeel hy het sy hand met ’n stuk glas gesny toe hy uitgevra is oor bloed aan sy hand.

Mhauli sê hulle het Yako in die vên gelaai en teruggegaan na die toneel van die misdaad in Green­acres.

Hy het getuig toe hulle daar aankom, het hulle gesien dat paramedics doenig is by ’n wit Colt-bakkie.

Hy sê een van die vensters was gesmash en ’n voorhamer en blou pet het naby die bakkie gelê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters