16 dae gelede
Chester leef voort in Japan
trots: Bok-ondersteuners met hulle Chester Williams-maskers. Foto’s: Facebook  ~ 

CHESTER Williams is voor die afskop van die Wêreldbeker oorlede, maar ’n goeie vriend van hom het seker gemaak hy woon die Springbokke se wedstryd teen Italië in gees by.

Pete Gottgens, vriend van Williams en bestuurder van Asara Wine Estate & Hotel, het ’n groot cut-out van die Springbok-legende saam met hom na die wedstryd gevat.

Die foto wat vir die cut-out gebruik is, is deur Son se eie Jonathan Lestrade geneem.

Gottgens is in Japan om die bier Chester’s IPA te bemark. Hy het belowe om Williams se nalatenskap lewend te hou ná die oud-Bok se heengaan.

As deel hiervan het hy die afgelope week ’n spesiale roudiens by die woning van die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Japan gehou.

Die diens in die woning van die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Japan is deur lede van die rugbygemeenskap, voormalige Japanse rugbyspelers en sakemanne bygewoon.

Dit was ook die amptelike bekendstelling van Williams se bier, Chester’s IPA, in Japan.

Dit gaan die enigste Suid-Afrikaanse bier wees wat vir die duur van die Wêreldbeker-toernooi verkoop gaan word.

Gottgens het vroeër aan Son gesê van die inkomste uit verkope van die bier gaan aan die Chester Williams-stigting.

Die stigting se hoofdoel is om ’n crèche in die Chester Wil­liams township in die Paarl op die been te bring.

Ubuntu

Dit was die groot ding wat Williams nie in sy leeftyd kon vermag nie.

Gottgens sê die roudiens was ’n emosie-belaaide dag, maar tog ook feestelik.

Hy sê dit het hom trots gemaak om met Williams geassosieer te word.

Michelle Pearce-Nakatani, wat ook die roudiens bygewoon het, sê hoewel sy ver van die huis is, het sy die gees van Ubuntu gevoel.

“Pete was Chester se vriend en sy sakevennoot. Hulle het beplan om saam na die Wêreldbeker te kom,” skryf sy op Facebook.

“Pete wil nie sy belofte aan hom verbreek nie en het alle Suid-Afrikaners genooi om tydens die wedstryde teen Italië en Kanada ’n paar IPA’s buite die stadion te geniet.

“Wees op die uitkyk vir die groot cut-out van Chester en vat ’n paar maskers sodat ons kan seker maak hy is in gees daar saam met ons.” 

Saam: Pete Gottgens met ’n cut-out van sy vriend by die Bok-wedstryd teen Italië.Foto: Facebook
cheers: Springbok supporters drink ’n Chester’s IPA en dra maskers met sy gesig daarop.
trots: Bok-ondersteuners met hulle Chester Williams-maskers. Foto’s: Facebook
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters