13 dae gelede
Chessie onthou as rugbylegende
rus sag, kampioen: Chester Williams in aksie teen Engeland op Twickenham in 1995. Foto’s: GETTY IMAGES  ~ 

DIE rugbywêreld is nóg ’n vleuel van wêreld­gehalte armer.

Chester Mornay Wil­liams, een van die game se heel grotes, is Vrydag in die ouderdom van 49 jaar aan ’n hartaanval oorlede.

Williams het in 1995 die World Cup saam met die Springbokke gewen en 14 drieë in sy 27 toetse in die Groen-en-goud gedruk.

Hy het in 2000 sy uittrede uit internasionale rugby gemaak.

Breyton Paulse, Williams se voormalige spanmaat by die Westelike Provinsie en Springbokke, sukkel om die nuus te verwerk.

“Dis moeilik om te glo,” het Paulse gesê. “Ons harte bloei met die verlies van ons geliefde vriend. Ons het ’n ikoon verloor.

“Rus in vrede, my vriend. Ons dink aan Maria, sy kinders, familie en vriende. Mooi loop, Chessie!”

Mark Alexander, president van SA Rugby, het in ’n verklaring gesê die nuus is verwoestend, want “Chester was nog so jonk en gesond.

“Chester was ’n baanbreker in Suid-Afrikaanse rugby.

“Sy vertoning tydens die Wêreldbekertoernooi in 1995 sal vir ewig in die harte en gedagtes van ons rugbypubliek vasgevang wees.

“Hy was nie net bekend as lid van die Springbokke se klas van 1995 wat die World Cup gewen het nie, maar hy was ’n besonderse persoon wie se invloed wyer gestrek het as net die rugbywêreld.”

Die legendariese vleuel het tussen 1991 en 1998 altesaam 63 keer vir die Westelike Provinsie gespeel.

Hy het sy debuut vir die Springbokke in 1993 teen Argentinië gemaak. Hy het altesaam 47 games (vriendskaplike en toerwedstryde ingesluit) in die Groen-en-goud gespeel en 27 drieë gedruk.

In 1994 is Williams as Suid-Afrika se speler van die jaar aangewys.

Curriebeker

Williams was nie net ’n wenner van die World Cup in die Bok-groep nie, hy was ook ’n lid van die Springbok-span wat die Drienasiesreeks in 1998 vir die eerste keer gewen het.

Hy het boonop in sy roemryke loopbaan die Curriebeker saam met die Goue Leeus gewen.

Ná sy speeldae was Williams betrokke by die afrigtingstrukture van die WP.

Hy het die Cats (Lions) in Superrugby afgerig en ook die Blitsbokke geslyp.

Williams het daarby die Boland-Kavaliers afgerig voordat hy vir ’n ruk lank in Roemenië klubrugby gaan coach het.

Williams was voor sy ontydige dood die hoofafrigter van die Universiteit van Wes-Kaapland se Varsity Cup-span.

Lees meer in vandag se Son op Sondag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters