3 maande gelede
Bullet breek vrou se been
geskok: Malcolm Erentze sê sy vrou se skietery is die laaste ding wat hy verwag het om te gebeur. Foto: eldridge jason  ~ 

AL WAT sy wou doen, was om saam met haar pelle ’n lekker tyd op die dansvloer te geniet.

Maar nadat onbekende aanvallers op die dansers losgebrand het, lê die ma van vier al langer as ’n week met ’n koeël in haar been in die hospitaal.

Twee koeëls het Jill Erentze (28) laas Saterdag by Rumours Pub & Lounge in Wesbank, Malmesbury, getref. Een het haar voet deurboor, terwyl die ander een haar been gebreek het. Die koeël sit nou al langer as ’n week in haar maer­merrie vas.

Volgens Jill se man, Malcolm (34), was die skietvoorval die laaste ding wat hulle verwag het.

“Jill en haar vriendinne wou ’n bietjie gaan dans, want dit was die Sondag Lance Levendal, die club-eienaar, se birthday en hy het almal op Facebook genooi om sy verjaardag te kom vier.

hospitaal: Malcolm Erentze sê sy vrou, Jill, wag al langer as ’n week dat die koeël uit haar been verwyder word. FOTO VERSKAF

“Soos wat ek die ding verstaan, was Jill en haar tjommies nog nie eens 10 minute op die dansvloer nie toe die skote vanaf buite op hulle begin reën het.”

Toe Malcolm die nuus hoor, is hy inderhaas na die toneel toe.

Opgedaag

’n Verdwaasde Malcolm vertel: “Jill was so geskok, sy kon nie eens met my praat nie.

“Die bloed het uit haar voet gestroom en ek het haar met my first-aid-kennis gehelp totdat die paramedics opgedaag het.

“Sy lê nou al langer as ’n week in die hospitaal. Daar is sprake dat sy maande nie sal kan werk nie.

“Ons jongste is maar twee jaar oud. Ek weet nie hoe ons gaan cope nie. Niemand kan ook vir ons sê hoekom daar op die club geskiet is nie.”

klubbaas: Lance Levendal sê hy weet nie wat die motief vir die aanval is nie.FOTO VERSKAF

Levendal het gesê hy is ook nog in die donker oor die motief vir die skietery.

Na verneem word, het dit plaasgevind kort nadat Levendal daar opgedaag het.

“Ek kan nie sê of die skietery op my gemik was nie, want volgens my het ek geen enemies nie.

“Ons run ’n skoon besigheid en as mense hulle nie kan gedra nie, is hulle nie welkom nie.

“Mense kom hierheen om hulle te geniet en ons probeer ’n lekker vibe skep,” het hy bygevoeg.

Rumours het intussen ’n kennisgewing op Facebook gelaai waarin bekend gemaak word dat die club nou sy deure gesluit het.

’n Polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, het gesê twee ander mense is ook in die voorval gewond.

toe ná skietery: Volgens Rumours Pub & Lounge se Facebook-blad is die plek no more.Foto: eldridge jason

Volgens Van Wyk ondersoek hulle klagte van poging tot moord.

“Die polisie het aanvanklik ’n klag ontvang dat iemand ’n flare in die club afgevuur het.

“Met die polisie se aankoms is gevind twee onbekende mens het drie mense geskiet.

“In hierdie stadium is die motief vir die voorval nog nie bekend nie.

“Niemand is al in verband hiermee in hegtenis geneem nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters