4 maande gelede
Bronstige beskuldige nou op hok
tronk toe: Rob Packham word gister uit die hof gelei nadat hy gehoor het sy borgtog word herroep.  ~ 

DIE moordbeskuldigde Rob Packham het in twee e-posse vir sy eks-mistress se vriendin vertel hoe lus hy vir seks is.

Sy ontboeseming is glo gedoen om sy frustrasies te verlig.

Ongelukkig vir hom het hierdie boodskappe hom die kans ontneem om sy dogter se troue by te woon.

Boonop moet hy in die tjoekie sit totdat die moordsaak teen hom volgende jaar voorkom.

Packham is aangekla van moord op sy vrou, Gill. Haar lyk is in Februarie in Kaapstad naby die Diep­rivier-treinstasie in die boot van haar uitgebrande kar gevind.

Die sakeman van Constantia is kort daarna aangekeer, maar is op borgtog vrygelaat. Tóé is mooi aan hom verduidelik aan watter voorwaardes dit onderworpe is.

In September het hy dit verbreek deur sy eks-mistress te kontak. Sy is nou ’n staatsgetuie en mag nie geïdentifiseer word nie.

Packham het haar ge-e-pos en ge-sms. Hy het glo ook haar werkplek besoek om vir haar blomme en ’n boodskap te gaan gee.

Die staat het toe aangevoer Packham se konstante pogings om die vrou te kontak, is nie net ’n oortreding van sy borgtog-voorwaardes nie, dis ook ongewens.

Volgens regter Elizabeth Baartman het die staatsgetuie gevoel dié kontak is har­assment. “Sy borgtog het van R50 000 tot R75 000 gestyg in ’n poging om hom by sy borgtog­voorwaardes te laat hou.”

Maar verlede week is Packham weer gearresteer nadat hy die voorwaardes met ontoelaatbare boodskappe verbreek het.

In die eerste e-pos aan ’n vriendin van die eks-mistress vra hy: “Moenie my uitsluit soos ál my sogenaamde vriende nie, asseblief? Ek word ontneem. Ek crave intimacy, rou, primal seks ... Lus?”

In die tweede e-pos aan die vriendin vra hy of hulle mekaar kan sien.

“Geen agenda ... geen druk. Ek wil net connect. Ek sal jou nie lastig val vir inligting oor L nie (L verwys na die mistress). Ek verstaan dit is ’n no-go zone.”

Packham hou vol hy het nie die e-posse gestuur nie.

Ná die e-posse het dit in die hof uitgekom Packham, sy eks-mistress en haar vriendin behoort aan ’n swingers’ club. Nie dat hy gou weer daaraan sal kan deelneem nie.

Die regter het bevind: “Hy is onder streng voorwaardes onder huis­arres geplaas. Nadat hierdie maatreëls ingestel is, het hy steeds nie aan die hofbevel voldoen nie.”

Baartman het gevolglik bevind Packham het weer sy borgtog-voorwaardes oortree.

“Die respondent word in hegtenis geneem in afwagting van die finalisering van sy verhoor, tensy ’n bevoegde hof anders beveel.”

Die saak word op 11 Maart hervat.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters