15 dae gelede
Broers byt vas in tawwe tye
UITHOUER: Duane Ruiters het hom nie deur swaarkry laat onderkry nie.  ~ Foto's Verskaf

NIKS in die lewe kom maklik nie en swaarkry kan baie swaar wees.

Maar as daar ’n wil is om bo jou omstandighede uit te styg, dan kan dit gedoen word.

Vra maar vir Duane Ruiters (19) en sy 21-jarige broer, Adian, wat laas jaar aan Swartberg Sekondêr in Caledon gematrikuleer het.

Die twee broers het hulle pa vroeg in hulle lewe verloor. Asof dit nie alreeds ’n vroeë terugslag was nie, het hulle ma, Elizabeth, vroeg in die skooljaar ’n beroerte gehad.

Loop

“Dit het my en my broer totaal van ons voete af geslaan omdat sy ál ouer is wat ons in ons lewe gehad het en wat vir ons kon sorg,” vertel Duane.

“Vandat my ma dié terugslag gekry het, het dinge verkeerd begin loop.

“Ons het erge finansiële probleme gehad tot op hierdie uur toe nog.

“Soms was daar aande wat ons niks gehad het om te eet nie.

“Ek kan nog mooi onthou – een aand toe ek by die huis kom, toe was daar niks om te eet nie.

“Toe het my stiefpa net R15 gehad om vir ons daardie aand brood en 50c chips te koop.”

STEUNPILAAR: Die twee broers se ma, Elizabeth, was hulle grootste bron van inspirasie.

Duane en Adian het egter deurgedruk en was in die klas van 2019 wat matriek geslaag het.

“My stiefpa, Martin Absolom, het nie werk gehad nie.

“Hy het ysters gaan uitgrawe om iets op die tafel te sit – wat nie baie was nie, maar ons was tevrede met wat ons gekry het.

“Ons skoolhoof en die personeel het geriewe vir ons beskikbaar gestel om te studeer.

Ontbyt

“Ook is daar toesighouers aangestel om ons saans by te staan.

“Deur die dag kon ons en die ander ontbyt en ’n bord kos by die skool kry. Selfs saans is ons iets gegee by die skool.”

Duane sê Adian wou sy skoolloopbaan opgee om te werk vir die huishouding, maar sy ma en onderwysers by die skool het hom moed ingepraat om sy matriekjaar eers klaar te kry.

“Daar was tye dat ek ook self op breekpunt was, maar my vriend Chrisnor Frans het gesê ek moenie nou kyk na die slegte tye nie, maar na wat voorlê en vir my wag.

“Daar was vriende wat ook deur die jaar teen ons gedraai het en ook jokes van ons gemaak het.

“Maar ons het dit gevat as motivering om deur die jaar te gaan, want swaarkry en arm wees is nie ’n skande nie.”

Talle barmhartige samaritane het ook regdeur die jaar die broers en hulle gesin van kospakkies voorsien om seker te maak hulle ly nie honger nie.

En met die broers wat albei nou hulle matriek geslaag het, glo hulle dat elke bietjie swaarkry die moeite werd was.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters