27 dae gelede
‘Bose geeste kasty my
Klaar: Antie Susan Steenkamp sê sy is raadop met die bose geeste wat haar pla.  ~ Eldridge Jason

PLETTENBERGBAAI. – Daar skort niks met haar kop nie. Sy kan nog rekenskap van ál haar varkies se whereabouts gee.

Dít is die eerste ding wat antie Susan Steenkamp (67) van die woonbuurt New Horizon sê oor die spoke wat haar al 15 jaar lank kasty.

Mense sal dalk dink hierdie antie is kêns as sy praat oor haar gespook om ontslae te raak van die bose geeste wat haar so uit die slaap hou.

Maar daar is ’n eerlikheid in haar oë wat tot jou spreek. ’n Blik wat sê dat sy nie hierdie gebeure uit haar duim suig nie. Dat 2005 se dinge nie net haar verbeelding is nie.

Haar lewe was eens op ’n tyd hunky-dory, vertel antie Susan.

So ryk soos ’n lord was sy nog nooit nie, maar alles was ten minste wel met haar siel ... tot 2005, toe twee familielede en hulle kinders by haar ingetrek het.

“Dit was toe dat die demone my begin teister het.

“Ek het altyd gewonder hoekom hierdie twee en hulle gesinne altyd net swart gedra het. Toe kom kry ek hulle een aand in ’n kring sit en besef dat hulle sataniste is.”

Antie Susan sê die gebeure het haar so gegrief dat sy die familielede gevra het om te trek.

“Maar ongelukkig het hulle duiwels nie saam hulle getrek nie, en toe my dogter in 2014 aan bors­kanker gesterf het, het dinge net erger geraak.

Gate

“Hier is pal ’n man in ’n lang wit gewaad wat in die aande in die huis ronddwaal.

“Om dinge nog erger te maak, is daar ’n gees wat saans gate in my mure slaan.

“Wie kan dit dan uithou as die duiwel so te kere gaan en nie tot rus wil kom nie?” wou ’n moedelose antie Susan weet.

Sy sê haar beddegoed en selfs geliefde kerkhoed het ook net onverklaarbaar vol bloed geraak.

“Ek was al by ons polisiestasie, maar ’n poeliesman wou toe weet of ek lekker in my kop is.

“Die enigste ding wat nie lekker is met my nie, is my rugprobleem waarmee ek sukkel.

“Maar daar skort niks met my verstand nie. Ek weet dat die goed wat ek saans sien, nie my verbeelding is nie.

“Vyftien jaar is ’n lang tyd om met ander mense se geeste opgeskeep te sit.

“Ek lees my Bybel elke aand, maar dit maak die geeste net kwater.

“Eerlikwaar, ek weet nie meer wat om te doen nie. Ek vrees die nag.”

Flaffie

Antie Susan sê dinge is nou al so erg dat g’n elektroniese toerusting in haar huis wil werk nie.

Selfs Flaffie, haar pavement special vir ’n hond, is diep bang, sê sy.

By Son op Sondag se besoek was Flaffie heeltyd aan’t kerm en het nooit sy baas se sy verlaat nie.

Aan die bid: Antie Susan moet elke aand kliphard uit die Bybel voorlees.
Oppie lappe:Die moedelose antie sê bloed verskyn onverklaarbaar op haar klere en beddegoed.
Gees se werk? Die gate in antie Susan se huis is glo die handewerk van omgekrapte duiwels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters