2 maande gelede
Boer-vonnis word gevier
Adam ‘mannetjies’ pieterseFOTO Verskaf  ~ 
DIE Moordenaar: Martin Visser is gevonnis vir die moord op ’n plaaswerker.
Adam ‘mannetjies’ pieterseFOTO Verskaf
Regter Nathan Erasmus
Verlig: Billy Claasen saam met Adam “Mannetjies” Pieterse se familie.Foto: Melinda Stuurman
Nog Werk: AO Christoffel Fick sê daar is vrot appels in die polisie.

DIE lewenslange vonnis van ’n plaasboer wat gereeld bruin plaaswerkers aangerand het, is ’n oorwinning vir die bruin gemeenskap van die Matzikama-streek.

Só meen die menseregte-aktivis Billy Claasen, wat deur sy Rural and Farmworkers Development Organisation kyk na die belange van plaaswerkers en mense in landelike gebiede.

Martin Visser (45) van die plaas Dassiehoek naby Lutzville is Dinsdag skuldig bevind aan die moord op Adam “Mannetjies” Pieterse (32), asook ’n aanklag van aanranding.

Hy is ook skuldig bevind aan ’n ander aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die klaer in dié saak was Kleintjie Moses.

Moses het tussenbeide getree toe Visser ’n bierbottel stukkend geslaan het op ’n vroue-plaaswerker.

Visser was vies vir Moses en het hom met die stukkende bierbottel in die nek gesteek. Die antie het glo drankskuld by Visser gehad.

In 2013 is Visser op ’n soortgelyke aanranding skuldig bevind en gestraf. Die klaer in die saak was ook ’n vrou wat Visser geld vir drank geskuld het.

Visser het haar geskop en getrap.

Mannetjies se dood het egter daartoe gelei dat Visser tjoekie toe is.

Mannetjies het Visser die eerste keer van aanranding aangekla nadat Visser hom gemoer het toe hy op ’n Sondag­oggend wou drank koop. Visser het ’n onwettige drankwinkel op die plaas bedryf.

Weke daarna het hy weer vir Mannetjies aan die strot gegryp.

Ná die aanval het Mannetjies hom weer by die polisie aangegee.

Dit is tóé dat hy Mannetjies op 25 Februarie 2015 met ’n graf doodgeslaan en sy lyk in ’n vlak graf begrawe het. Sy lyk is op 17 Maart 2015 gevind.

Visser is vir lewenslank mang toe gepos.

Claassen sê die uitspraak en vonnis is belangrik. “So kan plaaswerkers se menswaardigheid herstel word, want vir te lank word plaaswerkers soos tweedeklas-burgers behandel.”

Hy meen egter baie werk lê nog by die polisie, laer howe en staatsinstansies in die streek.

“Daar is nog te veel sake wat langs die pad wegval. Ons staatsinstansies benodig transformasie.”

AO Christoffel Fick van die Lutzville-polisie erken baie werk lê nog by die plaaslike polisie.

“Daar is vrot appels in die polisie wat nie hulle werk doen nie. Maar daar is ook diegene wat hard werk en seker maak dat ’n misdadiger wel die hof sien. Maar die laer howe verkies ’n mediasie oor ’n vervolging. Dit is nie altyd in die belange van die gemeenskap nie.”

Regter Nathan Erasmus was die regter in die saak teen Visser. Hy het die polisie geloof vir hul uitmuntende speurwerk.

“Maar die hulp het te laat gekom, want sy eerste hulpkrete is deur die polisie geïgnoreer.”

Erasmus het gesê daar is ’n duidelike magsverhouding tussen wit mense en nie-wittes in die streek. “Daar was baie foute in die verlede wat ons in dié tyd moet regstel.”

Hy het ook howe en die polisie in die streek aangesê om dié magsverhouding te probeer verbreek.

Bruin mense wat die saak gereeld bygewoon het, is in ekstase oor die vonnis.

“Dit gee ons weer geloof in die regstelsel en wys dat een ras nie verhewe is bo ’n ander en ook nie bo die gereg nie,” sê ’n inwoner van Vredendal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters