15 dae gelede
Bloue ‘betas eerder as deursoek’
Allouise Swarts se dogters, Zhandri (links) en Zacklene, sê hulle is verneder.  ~ Foto Verskaf

TULBAGH. – Twee tieners sukkel om die nare ondervinding wat hulle by ’n polisiestasie opgedoen het, te verwerk.

Zacklene Williams (17) en haar suster, Zhandri (13), het onlangs ’n nare ervaring gehad toe hulle by die polisiestasie hier moes strip.

Dit was sodat ’n vroulike cop hulle kon deursoek vir dwelms.

Zacklene vertel: “Dit was so rondom 12:00 toe ek en my suster huis toe stap nadat ons in die dorp was.

“Toe kom stop daar ’n polisievên by ons en ’n polisievrou beveel ons om in die vên te klim.

“Toe ek vra waarom ons moet saamgaan, sê sy hulle gaan ons twee visenteer vir drugs.

“Toe ons verduidelik dat ons geen dwelms by ons het nie, sê die cop dat sy ons sommer maniere ook gaan leer.

“Ons moes ons by die polisie­stasie ontbloot en ons is toe aan ons privaat dele betas terwyl sy kwansuis op soek was na drugs.

“My jonger suster was later in ’n toestand en sy het begin huil.

“Ek moes sterk wees vir haar, want sy was baie ontsteld oor die vernedering wat ons moes deurgaan.

“Toe die vrou niks dwelms by ons kry nie, sê sy ons kan gaan.

“Hulle wou ons nie huis toe neem nie.

“Ons het toe ons ma gaan vertel wat gebeur het.”

Die twee meisies se ouers stel baie hoë sedelike waardes vir hulle.

Hulle gebruik nie eens sosiale media-platforms soos WhatsApp nie en is baie huisvas.

Die meisies se pa, David (65), sê hy het ’n vermoede oor wie agter die hele ding sit.

Worstel

Hy sê: “Die polisie het ons nie eens in kennis gestel van dié voorval nie en ons kinders moes dié hel alleen deurmaak.

“My kinders kan nie slaap nie en hulle worstel nou met erge sielkundige probleme.

“Die polisie het nie eens die moeite gedoen om berading vir hulle te reël nie.”

Die ouers sê die polisie wil nie ’n klag aanvaar teen hulle kollega nie.

Son op Sondag het kapt. Viala Groenewald, waarnemende bevelvoerder van die Tulbagh cop shop gevra of dié aantyging waar is.

Groenewald het gesê hulle was nie by haar oor dié kwessie nie en dat ’n ondersoekbeampte die saak hanteer.

Maar toe die meisies se ma, Allouise Swarts (49), van hierdie reaksie vertel is, was sy baie verbaas en ontsteld.

Swarts beweer: “Groenewald praat nie die waarheid nie. Ek en my dogters was persoonlik by haar.

“Toe ons ’n klag wou lê, het sy vir my gesê sy dink nie die vrou sal krimineel aangekla word nie en dat sy moontlik net dissiplinêr aangespreek sal word.

“Sy het toe gesê ons klag sal na Opod (die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat) verwys word.”

David is vasbeslote om geregtigheid vir sy kinders te laat geskied en dreig met verdere stappe teen die vatterige cop-vrou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters