16 dae gelede
Bejaarde ma sukkel met Sassa

SOLANK jou ma nog daar is, sal jy altyd ’n kind in haar oë bly.In die Stemmet-gesin is dit presies soos die spreekwoord lui.

Die 86-jarige Anne Stemmet van East­ridge in Mitchells Plain sê sy sal enige iets doen – selfs haar eie gesondheid laat skade ly – sodat haar dogter beter kan lewe.

Ouma Anne, wat op haar en die 60-jarige Avril se Sassa-toelae staatmaak, sê die lewe druk haar kwaai, maar sy doen dit vir haar dogter. Die ouma en haar dogter het sedert Mei nie hulle toelae ontvang nie.

Ouma Anne verduidelik dat Avril van geboorte af disability-geld gekry­ het en daar is ’n paar jaar gelede boonop kanker by haar ge­diagnoseer.

Sy sê sy het altyd van haar geld kos, kimbies en medisyne gekoop sodat Avril gemaklik kon lewe.

Maar toe Avril in Mei 60 word, het alles skielik begin skeefloop.

“Ons het dieselfde bankrekening gedeel, toe gaan ek in saam met Avril om haar van die disability na Sassa oor te switch, maar ons wag nou nog.”

Die ma sê sy het ál die regte stappe gevolg en selfs die 17 vorms ingevul, maar steeds kry sy niks.

“Ek worry nie eens oor my geld nie. Ek worry oor my kind. Hoe kan ek so na haar kyk?

“Ek het ander kinders wat my help, maar hulle het ook families.”

Die mamma sê sy is teneergedruk omdat sy ’n kind het wat as gevolg van geld ly en daar niks is wat sy kan doen om te help nie.

“Ek voel moedeloos. Hoe kan ek haar medisyne gee as daar nie eens kos in die yskas is nie?

“Ek bedel vir die basiese goed en vra die Here elke dag om my die krag en kos te gee. En wanneer ek kry, gee ek dit altyd vir Avril.”

Sy voeg by sy het al gewens sy kan doodgaan, maar sy moet sterk wees vir Avril.

“Al wat ek wil hê, is om agter my kind te kyk.

“Ek kan dit nie hanteer om haar so te sien nie.

“Jy as ’n ma voel gebroke om te weet dat daar niks is wat jy meer vir jou kind kan doen nie.”

Shivani Wahab, woordvoerder vir Sassa, het bevestig Anne en Avril die Sassa-rekeninge is gesluit omdat hulle die bankrekening van ’n ander familielid gebruik het.

Verwag

“Hulle rekeninge is ondersoek. Dié stap is gedoen om seker te maak dat die private besonderhede van ons kliënte beskerm word.”

Volgens Wahab kan die Stemmets weer vanaf November hulle geld verwag. 

bid: Anne Stemmet sê die Here hou haar moedig.
moedeloos: Die 86-jarige ouma vertel hoe desperaat sy sommige tye is.
asseblief: Ouma Anne sorg al maande vir haar dogter, Avril (regs), sonder enige Sassa-geld. Foto’s: Tracy-Lynn Ruiters
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters