27 dae gelede
Bail vir 1 in Booysen-moordsaak
Afgemaai: Justin Booysen van Rosebank is koelbloedig doodgeskiet.  ~ Ter illustrasie/ son

BORGTOG van R5 000 is Woensdag in Oudtshoorn se landdroshof toegestaan aan een van die vier verdagtes wat teregstaan vir die moord op Justin Booysen (30) van Rosebank.

Lorenzo Malgas (23), ’n pa van drie kinders, staan saam met Simphiwe Ndoni (31), Ephraim Malgas (41) en Breyton Bruiners (25) tereg op klagte van moord en aanranding om ernstig te beseer.

Booysen is op Sondag 17 November 2019 in sy huis in Bella Rosa-singel, Rosebank, doodgeskiet.

Ephraim se borgtog-aansoek is uitgestel omdat sy regsverteenwoordiger nie Woensdag teenwoordig kon wees nie.

Die ondersoekbeampte in die saak, AO Darome­ Burger, het borgtog teengestaan omdat sy vir die applikant se eie lewe vrees.

Volgens haar het Lorenzo die betrokke aand ’n persoon wat die hek van Booysen se erf toegehou het, met ’n mes gedreig en ook iemand anders aangerand.

Sy het getuig die polisie het twee vuurwapens gevind en wag nog vir die ballistiese verslag oor die tweede wapen, wat moontlik die moord­wapen kan wees.

Ook is ’n memorandum met 1 824 handtekeninge aan die hooflanddros oorhandig waarin familie en hulle ondersteuners versoek dat die verdagtes nie borgtog moet kry nie.

Die applikant se regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het vir sy vrylating gevra omdat hy nie ’n vlugrisiko is nie en daar geen getuienis voor die hof is dat hy getuies sal intimideer of dreig nie.

Volgens Metembo kom die memorandum net uit ’n sekere deel van die gemeenskap en weet hy nie hoe dit bekom is nie.

Die applikant het aangedui dat hy onskuldig sal pleit en nog niemand gedreig het nie.

Sy betrokkenheid by die saak is ook kumulatief nie ernstig nie.

“Hy sal veilig wees buite. Hy sal niemand pla en niemand sal hom pla nie,” het Metembo afgesluit.

Sterk

Mervin Saayman, die staatsaanklaer, het die hof meegedeel dat die belange van die gemeenskap van groot belang is in die saak.

“Die staat het ’n sterk prima facie-saak teen die applikant en hy het nie bewys dat hy op borgtog vrygelaat moet word nie.”

Landdros Theolin November het in sy uitspraak gesê dit is duidelik dat die aangeleentheid groot belangstellig onder die publiek geniet en dat die Grondwet almal se veiligheid waarborg.

Die saak word op 11 Februarie her­vat met Ephraim se borgtog-aansoek.

  • Booysen se ma, Cathe­rine Saptou, het ná die hofverrigtinge haar teleurstelling oor die verloop van die saak uitgespreek. Volgens haar is sy nie in kennis gestel dat die borgtog-aansoek Woensdag sou plaasvind nie, aangesien dit vir Donderdag geskeduleer was.

Volgens haar kry die beskuldigdes voorkeurbehandeling terwyl die slagoffer se familie geïgnoreer word.

“Hulle kan nou maar vir my en my kinders ook kom doodskiet,” het Saptou verbitterd gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters