3 maande gelede
Antie Jessie skryf om wêreld beter te maak
mense-mens: Jasmine Uys lug al vir dekades haar mening en reik ook uit na haar medemens. Foto: ELDRIDGE JASON  ~ 

’N BRIEFSKRYWER soos min.

As jy nie vir Jasmine Uys van die Athlone ken nie, dan lees jy maar bitter min koerante. Punt.

Jasmine (63), of Jessie, soos sy liefdevol onder familie en vriende bekend staan, skryf al vir byna 30 jaar briewe en insette aan ál wat publikasie is in die land.

Die skryfgogga het Jessie in die 1990’s gebyt. En nes Spider-Man was niks meer daarna vir haar dieselfde nie.

“Ek het begin skryf ná my ma se afsterwe,” vertel sy skamerig. “Ek was nog altyd iemand wat lief was vir skryf en dit lê my na aan die hart.

Mening

“Ek onthou nog dat die eerste ding wat ek ooit ingeskryf het, was ’n grap na ’n tydskrif. Hiervoor het ek ’n R5-tjek ontvang wat hulle my nog in die pos gestuur het.”

Met haar bydraes aan die briewekolomme van ’n vrag tydskrifte en koerante, skryf sy oor als wat haar tot mening wek.

“Dit was my vriende en familie wat my aanvanklik aangemoedig het om te skryf.

“Ek lug my mening oor alles wat my bors warm maak, maar skryf ook graag oor die dinge wat my bly maak.

“As jy skryf, is jy ’n spreekbuis vir baie mense.”

Hierdie talentvolle vrou sit nie stil nie. Een van haar eerste verhale, “Gangland”, is ook in ’n bundel opgeneem wat in skole gebruik word.

“My ‘Gangland’-storie is ’n ander een, daai. Ek moes by ander hoor dat die storie deur leerders as ’n voorgeskrewe werk behartig is.

“Ek het net R92 vir daai storie gekry, maar ek worry nie. Ek skryf vir die liefde daarvan en nie soseer vir die geld nie.”

Maar by skryf hou dit nie op vir Jessie nie.

Sy is ook ’n kranige breier. Sy brei beanies vir kanker­lyers en weggooibabas.

“Sjoe, ek kan nie eens meer onthou vir hoeveel jare ek dit doen nie. Maar dit bring my groot plesier om te weet ek kan ’n verskil in mense se lewe maak.”

Van een ding is Jessie wel seker: Vir so lank as wat sy kan, wil sy skryf, skryf, skryf...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters