26 dae gelede
Aanklag teen klap-juffrou teruggetrek
skotvry: Die aanklag teen Clarissa Venter oor hierdie onderonsie is laat vaar.FOTO verskaf  ~ 

DIE klag teen ’n onderwyseres wat daarvan beskuldig is dat sy een van haar Sans Souci-leerders verlede jaar geklap het, is teruggetrek.

Clarissa Venter en die leerder se ma het klagte teen mekaar aanhangig gemaak nadat die leerder Venter gestoot het en sy (Venter) die leerder toe deur die gesig geklap het.

Die saak teen Venter (34) is Vrydag teruggetrek nadat voorleggings deur haar regsverteenwoordiger, William Booth, aan die hoofstaatsaanklaer van die Wynberg Landdroshof gemaak is.

Booth het die terugtrek van die klag teen sy kliënt bevestig. Volgens hom was dit op grond van die meriete van die klag teen Venter.

Booth het voorheen gesê hy is van mening dat die klag teen Venter laat vaar moet word.

Uitklim

Dis omdat in die dissiplinêre verhoor by die skool reeds daarmee gedeal is en die betrokke leerder reeds die skool verlaat het.

Volgens Booth is Venter verlig oor die hofbeslissing ná die steil bult in haar lewe wat sy weens die voorval moes uitklim.

Die dissiplinêre verhoor teen Venter is ook reeds afgehandel en sy is weer terug in haar pos by die skool.

In hierdie verhoor het die skool­beheerliggaam beslis dat sy ’n boete moet kry, asook ’n finale waarskuwing, en dat sy sessies in anger management moet bywoon.

Volgens Netwerk24 is die leerder wat by die voorval betrokke was, aangesê om gemeenskapsdiens te doen.

Die video clip oor die betrokke voorval het destyds viral gegaan toe die klap-voorval rugbaar geword het. – News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters