Verlede jaar
Vraestel pla vele glad nie
matrieks: Marshall Rhode, Caromine Swanepoel, Jacqueline Daniels, Myrilene Herandien en Dinolee Herandien is grootliks tevrede met die toerisme-vraestel.Foto: KEITH MEYER  ~ 

MATRIEKS van die Hoërskool Ladismith was dié week aangenaam verras met die toerisme-vraestel.

Die leerders het verklaar die vraestel het alles bevat wat hulle gedurende die jaar in die klas geleer het.

Jacqueline Daniels het verlig gesê: “Alles in die vraestel het ons deur die jaar deeglik behandel. Alle vlakke van begrip is gedek en ek het my vraestel bemeester.

“Die harde werk van meneer Warrenth Moos, ons inspirerende onnie, sal beloon word.”

Volgens Dinolee Herandien was die vraestel baie maklik en het hy die vrae goed behandel.

Dinolee het gesê: “Sekere van die vrae wat twee tot drie onderwerpe saamsmelt, was kopkrappers. Maar oor die algemeen kon ek die vraestel goed beantwoord.”

Marshall Rhode het verduidelik die deurlopende assessering wat gedurende die jaar by die skool gedoen is, was selfs moei­liker as die vraestel.

Caromine Swanepoel het gesê: “Ek het harder begin werk en het aan die einde van die September-rekordeksamen die vrugte daarvan gepluk.

“Ek was onder baie druk en was senuweeagtig oor die vraestel, maar ek het met alle mag en krag die vrae na die beste van my vermoë beantwoord.”

Myrilene Herandien het verduidelik: “Ek is nie ’n sterk kandidaat nie en moet altyd harder leer as die res. Daarom dink ek dit was vir my moeilik.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters