Verlede jaar
Van beskuldigde tot ’n advokaat
daar’s hy: Adv. Stephen Lourens (regs) verwelkom adv. Shawn Ferreira tot die balie.Foto: GARNETT WICOMB  ~ 

HY WAS ’n lid van die gevreesde American-bende, verslaaf aan alkohol, ’n ge­soute hofloper en tronkvoël.

Maar toe besluit Shawn Ferreira (38) tot hiertoe en nie verder nie.

En verlede Vrydag is Ferreira in die hooggeregshof in George as advokaat tot die balie toegelaat.

Ferreira het vertel dat hy sy regstudie aan die destydse Uni­versiteit van Port Elizabeth (deesdae die Nelson Mandela-Universiteit) in 1998 gestaak het.

Hy het huis toe gegaan, na Dysselsdorp, en be­trokke geraak by bende­bedrywighede.

“Ek was ’n rebel,” het dié seun van John en Johanna Ferreira vertel.

“Ek was soet in die huis, maar stout buite, en die polisie het my ge­durig gewaarsku.

“Ek was verhoorafwagtend in die tronk vir 13 sake, maar danksy die Vader se genade is ek op ál die aanklagte onskuldig bevind.

“Ek was in die hof vir geweld en poging tot moord, maar nooit vir diefstal of verkragtings nie. Drank was my grootste swak punt, maar gelukkig nie dwelms nie.”

Toe sy dogter hom een Sondag in die tronk besoek, het hy besluit: “Ek is klaar met dié plek.”

Hy is in 2004 vort uit Dysselsdorp en het by ’n tante in Kathu in die Noord-Kaap gaan bly.

Daar was hy ’n polisiereservis voordat hy na Kaapstad verhuis en ­sekuriteitswerk gedoen het.

’n Onbekende man het hom eendag gevra of hy vir altyd so wil sit.

Dit het Ferreira so geskok dat hy oor sy omstandighede gedink het.

Dié man het hom gehelp om by Unisa te registreer om sy regstudie voort te sit.

Hy het sy eerste drie modules in 2006 voltooi terwyl hy steeds as sekuriteitsbeampte gewerk het.

Ferreira het vertel: “Ek het ál my bonusgeld aan studie bestee en in 2015 my LLB-graad verwerf.”

Ferreira is in 2011 getroud, “maar die huwelik het egter nie uitgewerk nie”. Hy het drie kinders.

Aangemoedig

Verlede jaar het hy maar weer sekuriteitswerk gedoen en werk by prokureursfirmas gesoek totdat hy in Junie aansoek gedoen het om as advokaat tot die balie toegelaat te word.

Ferreira het gesê hy is baie dankbaar teenoor die staatsaanklaer Corné Pretorius, wat hom altyd aangemoedig het.

Ferreira raai jong mense aan om by jeugorganisasies betrokke te raak, aan te hou studeer en nooit moed op te gee nie.

“Vriende kan inspireer of ver­nietig; kies hulle wys,” maan hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters