3 maande gelede
Uurglas van hul geduld loop nou uit
wakende oog: Die polisie hou die gebeure in Rheenendal fyn dop. FOTO’S VERSKAF  ~ 

FRUSTRASIES kan net só lank in toom gehou word.

Só sê Elberto Mabi, gemeenskapsleier van Rheenendal naby Knysna.

Die inwoners van Rheenendal het dié week besluit om nie langer op hul plaaslike munisipaliteit te wag vir behuisingsprojekte nie. Hulle het begin om op oop stukke grond erwe af te steek en hokkies te bou.

Hieroor sê Mabi: “Hier is in 2000 laas ’n paar huisies gebou.

“Dit was nie eens die plaaslike munisipaliteit nie; dis gebou deur die destydse departement van landelike ontwikkeling.

“Die mense is moeg gewag en gefrustreerd. Jaar ná jaar word beloftes gemaak oor behuising, maar niks gebeur nie.”

Mabi sê die behuisingsnood in Rheenendal bly toeneem. “Destyds was dit so 700, 800 aansoeke, maar dit is nou al baie meer.

“Oor die jare het die kriteria ook nie meer relevant gebly nie. Om te kwalifiseer vir ’n Hop-huis, moes aansoekers destyds ’n gesament­like maandelikse inkomste van minder as R3 500 gehad het.

“Hierdie mense se salarisse het oor 20 jaar mos toegeneem, so wat gaan nou van hul aansoeke word?

“Niemand kan vir ons antwoorde hierop gee nie.”

’n Inwoner wat anoniem wil bly, sê mense is moeg daarvan om soos sardientjies langs mekaar te bly.

“Die kinders het oor die 20 jaar se gewag al grootgeword en het self al kinders. Hulle almal bly nou agter in hul ouers se jaart in hokkies, maar daar is nie meer genoeg plek vir almal nie. Al wat mense vra, is dat die regering ’n slag hul beloftes moet nakom.”

Christopher Bezuidenhoudt, ’n woordvoerder vir die Knysna-munisipaliteit, sê dis onwettig om munisipale of privaat grond te beset.

“Die munisipaliteit kan dié aksies nie goedkeur nie. Ons doen ’n beroep op inwoners om die wet te gehoorsaam.

“Grond blyk tans ’n brandende probleem in ons land te wees. Ons versoek ál ons inwoners om geduldig te wees.

“Moenie die wet in eie hand neem nie. Ons verstaan die gemeenskap se frustrasie, maar ons werk met die provin­siale en nasionale regering saam om die agterstande na die beste van ons vermoë te hanteer. Ons kan dit nie sonder hulle doen nie.”

Bezuidenhoudt sê die burgemeester, Eleanore Bouw-Spies, en amptenare van die provinsiale departement van menslike nedersettings het met gemeenskapsverteenwoordigers oor die kwessie vergader.

“Daar moet kennis geneem word dat dié vergadering met die provin­siale amptenare vooraf opgestel is en nie weens die protesaksie nie.

“Ons het reeds ’n (behuisings-) beplanningsaansoek by die provinsiale departement ingedien.

“Die provinsie sal ná oorweging ’n aanduiding gee van die ontwikkelingsfases, waarna die gemeenskap hieroor ingelig sal word.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters