Verlede jaar
Tieners het dorp in misdaadgreep
stukkend: Bridgitte Miggels sê die aanval volg op ’n rusie met ’n kollega by die werk. Foto: Clive Pretorius  ~ 

HEIDELBERG. – Die dorp sukkel om te deal met ’n groep snotneus-skollies wat verwoesting saai deur inwoners aan te rand en te beroof.

Laas Vrydagaand het die groep kwaaddoeners weer toegeslaan toe hulle ’n enkelma se tweevertrekhuis in Joe Slovo Park erg beskadig het deur al die vensters met klippe en stokke stukkend te gooi.

Saterdagoggend het die plaaslike polisie nege jeugdiges tussen die ouderdom van 14 en 17 jaar in hegtenis geneem.

Drie van hulle is meisies, onder wie ’n tweeling.

Twee van die seuns is ná ondervraging vrygelaat.

Die drie meisies en vier ander seuns het reeds twee keer die afgelope week op aanklag van saakbeskadiging en ander aanklagte in die plaaslike landdroshof verskyn.

Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel.

Die meisies is tot hulle volgende hofverskyning in ’n plek van veiligheid in Kaapstad geplaas.

Een van die seuns het Dinsdag weer op verskeie ander aanklagte in die hof verskyn.

Volgens inwoners wat verkies om anoniem te bly, saai die groep kwaaddoeners nou al geruime tyd vrees in die dorp met hulle misdadige bedrywighede.

Volgens die inwoners breek die groep ook gereeld by huise en sakepersele in.

Die groep staan bekend as die Naughty But Nice-bende (NBC).

Die slagoffer van die nuutste aanval, Bridgitte Miggels (26), vertel dié aanslag op haar huis spruit uit ’n rusie by haar werk met een van die bendelede se niggies.

Volgens Miggels het sy en haar kollega in werktyd stry gekry. Sy het gedink dit is vergete – totdat die kollega se neef haar ná werk aangerand het.

Sy het ’n saak van aanranding aanhangig gaan maak.

Vernietig

Maar dit het nie daar gestop nie – die aand het alle hel by haar huis losgebars.

Miggels, die ma van ’n vyfjarige dogter, vertel die jeugdiges het, benewens die vensters, alles in haar huis so te sê vernietig.

“Hulle het ook geld gevat wat ek in my beursie gehad het.

“My kêrel en ’n vriendin met ’n jaar oue baba was tydens die aanval in die huis.

“Gelukkig was my dogter by my familie, anders sou sy erg getraumatiseer gewees het,” sê Miggels nog duidelik geskok.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters