2 maande gelede
Stad sluk vroue in
vermis: Lydia Meyer (links) kuier vroeër met haar vriende. Foto’sverskaf  ~ 

CALITZDORP. – Talle plattelandse meisies wat die spreekwoordelike pot goud in die stad gaan soek, raak óf soek óf boet met hul lewe daarvoor.

Nou vrees die familielede van Lydia Meyer (27) van Bergsig hier ook die ergste nadat sy in die Kaap gaan werk soek het.

Die familie het geen nuus van haar gekry sedert sy vort is nie, en dít is langer as ’n jaar gelede.

Dit is die soveelste werklose meisie wat net verdwyn het. Nóg een wat gehoop het die blink ligte van die groot stad sal ook vir haar skyn.

Son het op 11 Julie berig oor twee niggies wat ook gaan werk soek het in Kaapstad, en daarna as lyke teruggekeer het.

Martha Frans, die ma en ouma van Loekie Frans (50) en Christolene Witbooi (27), sê Loekie is in Kaapstad oorlede. Witbooi is twee dae daarna dood.

Witbooi het in ’n toestand met ’n taxi van die stad af gekom. Sy kon nie loop of praat nie en is ure later in haar ma se huis dood.

Die polisie doen ’n geregtelike nadoodse ondersoek.

’n Pa, Johan Muller, vertel: “Ek moes nou die dag my meisiekind loop haal nadat sy die hemel op aarde belowe is deur ’n werkgewer, maar onder haglike omstandighede gewerk en gebly het.”

Meyer se grootmaakma, Mona Martin, is baie benoud: “Ons hoor niks van die kind nie.

“Sy is, nes die ander, met ’n taxi op Kaap toe. Werk gaan soek.

“Dit was al laas jaar en nog geen taal of tyding van haar nie. Ons bid net dat sy safe is. Elke dag bid ons.”

Lydia se dogter, Florika (14), treur oor haar ma: “Ek is nou in gr. 9 en verlang na my ma. Ek hoop ook net dat sy veilig is.

“As ons net weet waar in die Kaap sy haar bevind. En hoekom sal sy nie met ons kontak maak nie?”

Sonlanders wat dalk iets van Lydia se whereabouts weet, kan Mona bel by 078 545 3767.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters