Verlede jaar
Siek vrou kry ’n bietjie hoop
omgee: Suzette Africa lyk weer skaflik nadat ’n paar weldoeners ingespring het om haar omstandighede te verbeter.FOTO VERSKAF  ~ 

OUDTSHOORN. – Sy lê vir baie jare siek en niemand gee vir haar om nie.

Suzette Africa (32) is MIV-positief en haar lewe hang aan ’n baie kort draadjie.

Sy kla haar familie het haar in die steek gelaat en sy moet met haar moeë liggaam self oor die weg kom.

Liena Wazo, ’n skoonsuster, het Vrydag aan Son op Sondag gesê dat sy en Africa se bure nou besluit het om haar sinkhokkie netjies en skoon te maak.

“Jinne, meneer, g’n mens wat nog dodelik siek is, kan in sulke gemors nog sterf nie.

“Nee, o jinne, ons sal haar nou netjies maak voor die Here haar gaan kô haal.”

Die afgelope week het ­weldoeners douvoordag begin om Africa te was, haar huis skoon te maak en gesorg dat sy iets te ete kry.

“Ek sien nou wanneer iemand goed in die gemeenskap gedoen het soos my skoonsus, en dan siek word, dan word jy mos soos ’n vloerlap behandel,” het Wazo gesê.

Volgens haar sal sy self sorg dat Africa mooi begrawe word.

Maar vir eers is Wazo baie ­dankbaar dat sy en die bure ingespring het om Africa se gesig weer van blydskap te laat straal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters