Verlede maand
Sakekamer is nuut, maar al aan die gang
op hul kop: Die bestuur van die Pacaltsdorp-sakekamer is (voor) Luwayda Trantraal, Blanche Klassen, (agter) Cobus Klassen, Julian Klassen (voorsitter) en Enrico Apollis. Foto: EUGENE GUNNING  ~ 

GEORGE. – Die Pacaltsdorp-sakekamer is onlangs gestig en Son op Sondag het met die voorsitter daarvan, Julian Klassen, gesels.

Klassen sê die sakekamer werk reeds daaraan om by te dra tot die ekonomiese opheffing van die dorp.

Die doelwit is dat Pacaltsdorp moet kan bydra tot die ekonomiese groei van George en die Eden-gebied.

Klassen sê Pacaltsdorp put jare lank al nie altyd voordeel uit die ekonomiese geleenthede van die streek nie.

Een van die grootste uitdagings is werkloosheid. Van die 26 000 inwoners is ’n geraamde 32% werkloos, veral jong mense.

Klassen sê die armoede wat daaruit spruit, lei tot misdaad.

Hy sê: “Pacaltsdorp is al meer as 200 jaar oud en daar is byvoorbeeld nie ’n hotel, bank of motorhandelaar nie.

“So, wanneer die inwoners banksake wil doen, moet hulle teen onnodige vervoerkoste na die midde­dorp (George) ry.

Databasis

“Een van die onmiddellike kwessies is behuisingsprojekte wat tans bedryf word: Die inwoners weet nie wie daarby betrokke is nie en put geen ekonomiese voordele daaruit nie.”

Die sakekamer skep tans ’n databasis van werkloses. Hy het reeds gesprekke gevoer met instansies in die staatsdiens en privaat sektor oor die moontlikhede van werkskepping.

Verskeie projekte in samewerking met die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) word beplan, soos opleiding wat inwoners sal help om klein sakeondernemings te stig.

Die sakekamer wil ook kerke en skole betrek by sy planne.

Daar is ’n moontlikheid dat buitelandse beleggers betrek sal word.

  • Bel Luwayda Trantraal by 076 269 5421 of Blanche Klassen by 083 766 7528 vir meer inligting.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters