Verlede jaar
Oudsoldate reik uit ‘in nuwe stryd’
verlig: Varkieskloof se mense staan gereed vir die warm sop en brood. Foto: KEITH MEYER  ~ 

LADISMITH. – Hulle ken die swaarkry van die lewe ná jare op die grens.

Nou het oudsoldate van SAKK, ook bekend as Militêre Veterane, die lot van gemeenskappe in veral die plakkerskamp Varkieskloof verlig.

Abrham Saaiman, voorsitter van die organisasie Militêre Veterane, vertel hulle het ’n sopkombuis aangebied in Varkieskloof.

Hy sê: “Wat vandag hier gebeur, is die begin van ons nuwe stryd teen armoede. Ons slaap saans in warm huise, maar julle slaap saans in koue, klam sinkhokkies.

“Ons moet ons mense uit die hokkies en in huise in kry, sonder die pot politiek.

“Ons is ’n mensgedrewe organisasie wat dit ten doel het om met elke klein effort te probeer om mense te help.

“Die bosoorlog en ons stryd om deur die regering erken te word, motiveer ons om te help.”

Soufie Pietersen (83) sê: “Ek is al 83 jaar oud, maar het nie ’n huis nie. Sal ek een kry voor ek dood?

“Ek is so dankbaar vir die sop en brood. Dit troos darem.”

Ivan Plaatjies, Johan Januarie, Bernard Lewis en lede van die Vroueliga van die Veterane het ’n magdom vroue en kinders se harte gesteel met die warm sop en brood.

Magdalena Saaiman, sê: “Ons sal ook nog graag komberse wil uitdeel.”

Lesers of organisasies wat wil help, kan Saaiman bel by 074 408 3608.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters