6 maande gelede
Om jou Sassa hier te kry, is tawwe stryd
taai tye: Desmond Louw sê dis ’n opdraande stryd met Sassa.Foto: keith meyer  ~ 

CALITZDORP. – Om net eers gereed te wees vir ’n aansoek om broodnodige Sassa-geld is ’n stryd.

Jy moet eers geld het voordat jy uiteindelik by Sassa kan aansoek doen.

Desmond Louw, wat vir die ongelukkiges instaan, verduidelik: “Nee, wat. Kyk, jy moet eers geld het voordat jy kan aansoek doen.

“Dis waar die probleem lê. Jy doen dan juis aansoek omdat jy nie geld het nie. Nie eens ’n werk nie.

“Maar nou moet jy eers R140 het vir die ID-foto’s. Daarna moet jy nog ’n R200 het vir ’n return taxi om in Oudtshoorn uit te kom om daar vir Sassa te gaan aansoek doen.

“Wat van jou kos vir die dag? Want jy sit ’n dag lank in die ry. Uiteindelik kos dit jou omtrent R500, waarvan jy nie ’n sent het nie.”

Mina Swart voeg by: “Dan moet mense gaan geld leen en begin hulle hul AllPay met ’n lening, nog voordat hulle die geld het.

Proses

“Plaaswerkers moet ’n ryding dorp toe huur en baiekeer is die Sassa-mense al weg as die plaasmense in die dorp kom.

“Ons mense word nét so verarm,” kla Louw. “Dit was maar net die beste toe CPS die proses bestuur het. Toe het hier ’n lorrie gekom, waar jy ID-foto’s neem en sommer dieselfde dag jou ID-kaart gekry. Nou kom hulle nie meer nie. Vind ’n bietjie uit wat gaan aan?”

Henry de Grass, waarnemende streekbestuurder van Sassa, sê: “Die probleem is hoofsaaklik met die tekort aan Sapo-personeel.

“Na regte moet Sapo ’n personeellid saam met die Sassa-diensspan na Calitzdorp stuur, maar hulle is in dié stadium nie in ’n posisie om dit te doen nie.

“Samesprekings sal weereens met hulle gevoer word om wel iemand beskikbaar te maak om die kleiner plekke te bedien.

“Ek het me. Nonkanyane, die waarnemende Sassa-distrikshoof, opdrag gegee om die probleem op te los – so gou moontlik,” sê De Grass.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters