12 dae gelede
Kommer oor kids sonder toesig
GROOT WORRY: Die gemeenskap is bekommerd oor jong kinders wat rook en aan gevare blootgestel word.  ~  Mpumi Kiva

KNYSNA. – Terwyl ouers steeds gemengde gevoelens het oor of kinders tydens die pandemie moet skool toe gaan of nie, is die gebruik van drugs en sigarette onder kinders ook ’n groot kommer vir ouers.

In KwaNokuthula en die township Nekkies sê inwoners dis algemeen om kinders van so jonk as 11 jaar tussen vervalle ou geboue te sien drugs rook.

Gemeenskapsleiers het ouers gevra om hul kinders in te lig oor die gevare wat die gebruik van onwettige substances inhou. Hulle sê kids is onder groepsdruk en word só bekend gestel aan dagga en tik.

’n Gemeenskapsleier in Nekkies, Sam Thompson, sê families kyk tydens die lockdown nie genoeg na hul kinders nie.

Diens

“Dit is ’n probleem. Ons sien baie kinders wat na die ou geboue toe gaan en dagga en tik rook.

“Ons kan ook nie ’n gemeenskapsvergadering hou nie, want ons is steeds onder lockdown.

“Ons patrollie-eenhede kan weens die lockdown-maatreëls ook nie diens doen nie.”

Thompson sê gemeenskapsleiers moet saamkom en kyk wat hulle kan doen voordat dit nog erger raak.

“As ons nie iets doen nie, gaan die gemeenskap ’n probleem hê met jeugdiges wat drugs gebruik.”

In KwaNokuthula sê Melisizwe Sango, wat ’n patrollie-eenheid lei, dis ’n kritieke tydperk. Sango vra ouers om hul kinders op te pas.

“Kinders word met tye lank alleen by die huis gelos omdat die ouers moet werk.

“Dit laat kinders kwesbaar en hulle kan dan allerhande verkeerde dinge aanvang. As ons nie nou optree nie, kan dit te laat wees.

“Ons sal ’n buurt hê wat vol drugs is en ons as ouers sal daarvoor verantwoordelik wees.”

Hy sê die lockdown beteken nie kids moet in die strate ronddwaal nie. “Hulle moet by die huis wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters