8 maande gelede
Inwoners van Tehuis vrees skollies
Help ons: Inwoners van die Swartberg Tuiste op die trappe van die Oudtshoorn Burgersentrum.  ~ Garnett Wicomb

OUDTSHOORN. – Inwoners van die Swartberg Tuiste vir bejaardes in Dysselsdorp leef in vrees en onder haglike omstandighede omdat die munisipaliteit nie aandag aan die tehuis gee nie.

Só lees ’n memorandum wat Leon Campher van die Dysselsdorp Advieskantoor onlangs namens die inwoners aan die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, oorhandig het.

Sowat 20 van die bejaardes het ’n vreedsame plakkaatbetoging op die trappe van die burgersentrum gehou.

Die inwoners eis in die versoekskrif dat die munisipaliteit as eerste prioriteit onmiddellik weer sekerheidsbeamptes aanstel om die bejaardes gemoedsrus te gee.

Die omheining van die perseel is so kwaai verniel dat boosdoeners sonder moeite die perseel binnekom.

Probleme

Volgens Campher is ’n bejaarde onlangs in haar woonstel aangerand en byna verkrag.

Ander probleme is toilette wat nie spoel nie, kragbokse en deure wat nie kan sluit nie, stukkende toiletbakke en vensters, lekkende krane en ’n tekort aan beligting.

Volgens Marthinus Swanepoel, visevoorsitter van die inwonerskomitee, is ’n ander onrusbarende probleem jong mense wat onwettig in 10 van die huisies op die perseel woon en nie huurgeld betaal nie.

Die burgemeester het die inwoners die versekering gegee dat die munisipaliteit dringend aandag aan dié kwessies sal gee en reeds ’n bedrag van R500 000 vanuit die burgemeestersfonds bewillig vir herstelwerk aan die tehuis, asook die onooglike taxi-staanplek.

Werknemers van die munisipaliteit het reeds begin om bosse en bome by die tehuis af te saag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters