Verlede jaar
Icosa stel waarvoor hy staan
reg vir aksie: David Kamfer (met rooi kep) is vol vertroue dat sy party, Icosa, ’n force in die komende verkiesing sal wees.Foto: peter abrahams  ~ 

DIE nasionale ver­kiesings is om die draai – in Mei om presies te wees.

Ál wat ’n politieke party is, probeer nou om voornemende kiesers te oortuig daarvan dat hý die ding sal kan doen.

Son (EJ) het met David Kamfer (DK), die president van die In­dependent Civic Organisation of South Africa (Icosa), gesels oor sy party se vooruitsigte vir die ver­kiesing.

EJ: Hoe voel u oor Icosa se planne vir die komende verkiesing?

DK: Icosa, wat gemarginaliseerde kiesers verteenwoordig, is die party wat die snelste groei.

Baie partye was grootmond oor hulle steun vir bruin mense, maar kon nie eens registreer nie.

Dit laat Icosa as feitlik die enigste geregistreerde party – een met ’n track record van 15 jaar – om die mense se agenda te dryf.

EJ: Soos u weet, maak politieke partye gewoonlik baie beloftes voor verkiesings.

Waarvan kan u voornemende kieser waarborg as u party genoeg­same politieke mag gebied word? Wat is Icosa se visie?

DK: Ons sal werkloosheid hanteer soos in ons manifesto vervat deur, kortliks, verpligte militêre diensplig en verpligte gesondheidsopleiding vir verpleegsters in te stel; skoolpligtigheid van voor gr. R laat begin en die swak gemeenskaps­klinieke met gemeenskapshospitale vervang.

Bruin mense moet deel in die rykdom van die land en BEE moet regverdig toegepas word.

EJ: Gaan julle net in die Wes-Kaap aan die verkiesing deelneem?

DK: Nee, ons gaan in die Wes-Kaap, Gauteng en nasionaal deelneem.

Die Wes-Kaap is ons stronghold, waar ons die kingmaker sal wees omdat verskeie partye Icosa reeds as ’n bedreiging vir moontlike koalisievorming beskou.

Geen party gaan ’n volstrekte meerderheid in die Wes-Kaap hê nie.

EJ: Hoekom, sou u sê, behoort veral bruin kiesers vir julle te stem en nie, byvoorbeeld, vir die ANC of DA nie?

DK: Die DA kon nog nie die mantel van wit bevoorregting afskud nie en het in 25 jaar bitter min vir ons mense gedoen, behalwe om hulle as token-lede te misbruik.

Die ANC is verrot van die kop tot die stert. Moet ons die ANC nóg vyf jaar gee om die land heeltemal oor die afgrond te stoot?

’n Stem vir die DA is ’n stem vir Day Zero en ’n stem vir die ANC is ’n stem vir load shedding.

EJ: Ek het verneem daar is Icosa-lede wat ontevrede is met julle kandidatelys.

Weet u van sulke ontevredenheid en, indien wel, wat dink u daarvan?

DK: Ons het geen amptelike skriftelike klag daaroor ontvang nie.

As ons amptelik daarvan geweet het, sou ons, juis omdat ons demokraties is, ’n debat daaroor gevoer het voordat die lyste gefinaliseer is.

Terloops, wys my ’n party wat nié van dié tipe ontevredenheid gevrywaar is nie.

Geen kandidaat is verhewe bo die party nie. In politiek vorder ’n mens met jou party se handelsmerk, nie met jou eie naam en gesig nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters