10 maande gelede
Hulle sluk swaar aan die rioolwater
alternatief: Die gemeenskap van Beaufort-Wes is nou van rioolwater afhanklik vir hul oorlewing.Foto’s: ELDRIDGE JASON  ~ 
alternatief: Die gemeenskap van Beaufort-Wes is nou van rioolwater afhanklik vir hul oorlewing.Foto’s: ELDRIDGE JASON
dor: Só lyk die Gamkadam.
poeletjie: Dié is ál water wat tydens Son op Sondag se besoek in die dam te vinde was.
ENIGSTE uitweg: Rioolwater word by hierdie aanleg geprosesseer tot skaflike drinkwater.
krisissituasie: Truman Prince sê die nypende waterskaarste raak alle inwoners in die dorp.

BEAUFORT-WES. – Daar is min wat dit dalk sal verstaan, maar as dit nie vir riool was nie, het die plaaslike mense van die dors vergaan.

Die Gamkadam wat die dorp van water moet voorsien, is leeg.

Dolleeg is nie eens die woord om dié dam se watervlak te beskryf nie.

By ’n besoek aan dié dam was daar skaars genoeg water in om jou kleintoontjie in te dip.

Nou moet die dorp se reservoir waar menslike afval recycle waaruit water herwin word. Dít moet die dors van die dorp se sowat 35 000 inwoners les.

Beaufort-Wes se bekendste seun, Truman Prince, sê dié projek is iets wat nou handig te pas kom.

“Die nasionale regering het destyds toe ek nog burgemeester was, sowat R24 miljoen geskenk sodat ons hierdie plant kon oprig.

“Ons is die enigste. Daar is nie ’n ander munisipaliteit in hierdie land waar jou ‘a’-water omskep word in drinkwater nie.”

Prince sê die huidige waterskaarste raak almal van hulle.

“Kyk, dié gebrek aan water onderskei nie tussen velkleur of aan watter politieke party mense hier op die dorp behoort nie.

“Hierdie is ’n krisis wat almal van ons raak.

“Om hierdie krisis teen te staan, benodig die plaaslike munisipaliteit sowat R45 miljoen – R45 miljoen wat hulle nie het nie.

“Ons almal suffer. Jy sien dan hoe sleg lyk my gras ook al weens ons gebrek aan water.”

Norman Steenkamp, ’n in­woner, sê hy sluk maar swaar aan die idee van waar die water in hul krane tans vandaan kom.

“Ek wil nie snaaks wees nie, maar ek drink eerder gebottelde water.

“As ek net só ’n glas water na my mond toe bring en dink wáár daai water vandaan kom, dan raak ek al klaar naar.

“Maar hierdie is regtig ’n krisis waarmee ons sit. ’n Mens kan net hoop en bid dat daar ’n uitweg sal wees.”

Vra die inwoners wat die plaaslike mense oor naweke vir ontspanning doen en hulle antwoord vinnig: Suip.

Maar by Son op ­Sondag se besoek aan die dorp is daar maar min mense gesien hul dors met lawaaiwater les.

Pleks daarvan sien jy orals mense wat van die winkels af stap met kanne bottelwater.

“Jirrie, kênd,” het ’n gryse antie gesê en swaar gesug. “Hoe lykit da’ die liewe Heer wil ons soe voor Krismis straf?”

Kosie Haarhof, woordvoerder van die Beaufort-Wes-munisipaliteit, beaam Prince se sentiment dat R45 miljoen benodig word om hul groot waterpenarie aan te pak.

“Hierdie geld word benodig om nuwe infrastruktuur te bou en te kyk na alternatiewe wateropsies, soos boorgate.

“Die herwinde rioolwater is 100% veilig vir menslike gebruik en voldoen aan ál die standaarde.”

Haarhof sê die munisipaliteit is nie in ’n finansiële posisie om diegene wat hul neuse vir dié water optrek, van gebottelde water te voorsien nie.

“Die munisipaliteit sal egter watertenke op strategiese plekke in die gemeenskap plaas om toegang tot water te verseker,” het Haarhoff bygevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters