3 maande gelede
Huise ‘is nie gebou om te hou’
swak GEBOU: Cathy Lenties wys die halwe werk wat aan die Hophuis gedoen is.Foto’s: MPUMI KIVA  ~ 

OUDTSHOORN. – As die wind die dag waai, voel dit asof die huis inmekaar gaan val.

Só praat Linah van Reeden, een van die inwoners van Valhuise in die township Bongolethu.

Sy is een van die RDP-begunstigdes wat meen swak vakmanskap is die rede dat huise “uitmekaar val”.

Die huise is van 2006 tot 2007 gebou deur Power Construction, wat deur die Oudtshoorn Munisipaliteit gekontrakteer is.

Inwoners kla oor groot barste in die mure en bakstene wat los is.

Hulle praat van “death traps” en kla ook die munisipaliteit maak nie die huise reg nie.

Van Reeden sê dit het begin met krake en later het ’n muur omgeval.

“Ek het dit baiekeer gaan rapporteer, maar niks gebeur nie. ’n Groot gat het in my badkamervloer geval.

“Daar is baie van ons wat in hierdie omstandighede leef.”

Beskadig

Van Reeden sê ander huise lyk nog erger en sy is bang haar kinders kan beseer word.

In Siyabonga-straat het Cathy Lenties (28) bakstene in ’n groot gat in haar ma se huismuur gedruk.

“Krake het op die eerste dag wat ons ingetrek het, begin wys. As dit reën, kom dit deur die ceiling en beskadig ons meubels.”

Nog ’n inwoner, Mitta Fortuin (57), sê sy wil nie hê familie of vriende moet kom kuier nie, want hulle kan seerkry in die huis.

“Soms moet ek onder die bed slaap, want ek is bang bakstene sal op my kop val. Ek het dit aangemeld, maar al wat ek kry, is beloftes dat iemand die huis sal regmaak.”

Fortuin sê verskeie politici was ook al daar en het belowe dit sal reggemaak word, maar hulle het sedertdien verdwyn.

Ntobeko Mangqwengqwe, senior woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sê hulle is bewus van die toestand van die huise.

“Behuisingsbeamptes en plaaslike politici het die afgelope vier jaar die provinsiale departement van mens­like nedersettings gevra om aandag daaraan te gee en om die probleme met huise te ondersoek.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters