6 maande gelede
‘Hang jou op,’ hoor hy
NET so: James Daniels sê die gees wil hê die 12-jarige Augustine hom moet ophang op dieselfde plek waar Vaughan Payle selfmoord gepleeg het.
nie teen vlees: James Daniels glo die fight om sy pleegkind te beskerm is ’n geestelike battle.
plek van onheil: Hierdie woud gee Daniels die horries.
bekommerd: Daar word gevrees meer jong mense in die Hornlee-gemeenskap kan selfmoord pleeg.
bewys: Dié doktersbrief sê daar is niks fout met Augustine nie.

KNYSNA. – Dis ’n storie wat die hare op jou nek sonder self-raising flour sal laat rys...

Die 12-jarige Augustine Daniels het laas jaar by sy nuwe skool ’n stem hoor praat.

En sedert daai dag probeer die bose gees glo sy luck om Augustine sover te kry om hom aan ’n boom te gaan ophang.

Die gemeenskap van Hornlee gis oor die vlaag selfmoorde wat die gemeenskap die laaste tyd getref het.

’n Jong man het hom al in die parkie opgehang, ’n jong meisie het haar lewe op ’n soortgelyke wyse in ’n hok geneem en in die jongste geval het Vaughan Payle (17) homself op 5 Maart nie ver van sy ouerhuis aan ’n boom gaan ophang.

Sy erg ontbinde lyk is ’n week later deur ’n vriend gevind wat in die woud gaan draf het.

Voor sy dood was Vaughan by die Sunridge Primêre Skool, dieselfde skool waar Augustine sê die stem laas jaar met hom begin praat het.

Augustine se pleegpa en oom, James Daniels, sê medici en sielkundiges krap kop oor Augustine se makabere storie, terwyl sy skool hom net daaraan afvee en weier om Augustine op die skoolgronde toe te laat.

“Ek is ’n gelowige mens, maar hierdie is iets wat ek niemand toewens nie,” sê James moeg.

Hy vertel hy slaap sleg deesdae soos wat hy ’n oog oor sy susterskind moet hou uit vrees dat hy gehoor sal gee aan die demands van die stem wat met hom praat.

“Augustine is maar nou twee jaar in Hornlee, maar hy praat van dinge wat die gees hom vertel het – dinge soos die viswinkel wat lank voor sy aankoms hier nie meer bestaan nie.

“Die gees het aan hom gesê hy is 17 jaar gelede deur ’n SAB-trok doodgery. Ek het ’n bietjie navorsing gedoen en uitgevind daar was nie so ’n ongeluk nie, maar dat daar wel so ’n stout outjie by die skool was waar Augustine nou is, en wat dieselfde dinge as hy (Augustine) aangevang het.

“Augustine sal sommer uit die klaskamer loop, ’n baksteen deur die venster gooi, onderwysers by wie hy glad nie klas kry nie, lelik gaan invlieg… en daarna weet hy van niks nie.

“Ek het eers gedink die laaitie is ’n baie goeie actor, maar die vlaag selfmoorde hier en die feit dat Augustine gesê het die stem het gesê hy gaan hom R10 000 gee as hy hom by dieselfde boom ophang waar Vaughan hom opgehang het, het my nekhare laat rys.

“Augustine was nog nooit by die toneel waar Vaughan homself opgehang het nie. Ek en Vaughan se oom was daar.

“Maar Augustine kon in detail vertel hoe die boom en die omgewing daar lyk.”

Augustine moet nou talle toetse ondergaan alvorens die skool bereid is om hom terug te vat.

“Die voorlopige toetse wys daar skort niks met sy brein nie.

“Die dokter se mond het oopgehang toe Augustine hom die storie vertel en hy het van sy kollegas ingeroep om te kom luister.

“Een van hulle het vir my off the record gesê dat hierdie nie ’n mediese saak is nie, maar ’n saak van gebed.

“Tog kry ons nie hulp van die skool nie. Die skoolsielkundige het reguit vir my gesê hy is ’n gelowige man en glo nie in dinge soos geeste nie.

“Dit maak my moedeloos, want ek vermoed hierdie stem het met die ander kinders wat selfmoord gepleeg het, ook gepraat.

“Ek probeer alles in my vermoë om Augustine te help.

“Ek laat hom nie onder my oë uitgaan nie, want ek wil nie eendag wakker skrik en dan het hy gemaak soos wat die stem gesê het nie.”

Augustine weier tans om te slaap uit vrees dat die gees hom weer sal nader. Hy gebruik nou anti­depressante om hom nie net rustig te maak nie, maar ook te help slaap.

In ’n sagte stemmetjie vertel hy van die eerste keer toe hy die stem met hom hoor praat het.

“Iemand wat ek nie kon sien nie, het in ’n growwe stem ‘hello­’­­ gesê.

“Van skrik het ek teen die muur by die skool geval.

“Vandaar af praat hy met my, vertel my hoe hy dood is, maar hy wil nie sê in watter straat hy gebly het nie.

“Hy sê ek moet na die boom gaan, die veter styf teen die een tak vasmaak. Hy sê ek hoef nie eens te spring nie, net afskuif, en dan sal ek hom sien.”

James Daniels sê hy is nou so desperaat dat hy die Rooms-Katolieke Kerk gevra het om ’n exorcism op Augustine uit te voer.

Hy sê die kerk het hom meegedeel dat só ’n stap eers oorweeg kan word nadat alle mediese toetse afgehandel is. Augustine moet nog ’n finale MRI scan ondergaan alvorens James en sy gesin dalk antwoorde op ál hul vrae sal kry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters