5 maande gelede
Gru-ongeluk eis 2 lewens ná bakkie rol
DODELIK: Die mans het gesterf nadat dié bakkie die pad byster geraak het. Foto: CLIVE PRETORIUS  ~ 

HEIDELBERG. – Dié dorp is erg geskok oor die skielike en tragiese heengaan van twee mans wat onderskeidelik Dinsdagaand en Woensdagoggend gesterf het.

Dit volg nadat die bakkie waarin hulle gery het, die pad verlaat en gerol het.

Die bakkie het in ’n landery tot stilstand gekom. Die erg beseerdes was oral rondgestrooi en die ligter beseerdes het geskok rondgestaan.

Die ongeluk het Dinsdag net ná 18:00 op die R305-pad net buite Stilbaai gebeur. Albei mans was konstruksiewerkers wat vanaf Stilbaai op pad was huis toe.

Die oorledenes, Henry “Stoffie” du Toit (65) en Ferguson Fredericks (52), het onderskeidelik in die hospitaal in Riversdal en George gesterf nadat hulle baie ernstige, veelvuldige beserings opgedoen het.

Groep

Die bestuurder het glo beheer oor die voertuig verloor toe die linker­agterband bars.

Die twee was lede van ’n groep van 12 werkers, insluitend die bestuurder, wat in en agterop die dubbel­kajuitbakkie was.

Vyf van die meer ernstige beseerdes is op die toneel deur die ambulanspersoneel behandel. Hulle is daarna almal na die hospitaal in Riversdal vervoer.

Du Toit het later die aand tydens behandeling in die teater aan sy wonde beswyk. Fredericks en nog drie persone, David Smith, Jonathan Vollenhoven en Victor Williams, is na die George-hospitaal oorgeplaas, waar Fredericks later beswyk het.

Die drie word nog tans in die hospitaal in George behandel.

Die bestuurder en die ander ses is ná hul behandeling in Riversdal ontslaan.

Teen druktyd was die oorledenes se begrafnisreëlings nog onbekend.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters