Verlede jaar
God slaan nou die kitaar in oud-gevangene se lewe
Nuwe blaadjie: Herbie Michaels reik sy nuutste album uit.FOTO VERSKAF  ~ 

DAAR is darem ook goeie dinge wat uit Pacaltsdorp kom.

Soos die jazzkitaarspeler Herbie Michaels (35), wat weer kan glimlag noudat sy vierde album, It’s me, Herbie, ná baie swaarkry einde Oktober uitgereik word.

“Ek was ’n jaar en ses maande in die gevangenis en moes duur lesse leer as gevolg van verkeerde keuses en vriende,” vertel Herbie aan Son op Sondag.

Hy sê terwyl hy in die tronk was, het hy sy hart vir die Here gegee en “God het my in ’n droom gewys Hy gaan my uitlei uit die gevangenis. Ek was ’n druglord en het baie families se lewens verwoes.

“Ek is nie trots daarop nie. Maar deur God se genade is ek bevry en genees.

“God het aan my ’n gawe gegee wat baie se harte gaan aanraak deur dié musiek. Dis nou die tyd om in my roeping in te stap.

“Dit was in die tronk waar ek my eerste album, Joy, geskryf het.

“Daar het ek geleer om liedere te skryf.

“Ek het nooit geweet ek kon skryf nie, maar ek het jare gelede ’n profetiese woord gekry dat ek my eie liedere sal skryf en deur die wêreld sal toer.”

Herbie sê in die tronk het die Woord vir hom lewend geword en dit was ’n tyd van genesing.

Hy vertel hy was bevoorreg om sy grootste hero, Jonathan Butler, in George te ontmoet.

“Daardie dag het ek nie woorde gehad nie, want dit was ’n verrassing. Die oomblik was so groot, dit het my nuwe hoop gegee vir my toekoms.

“Dit was ’n onvergeetlike er­varing om my nuwe album in Johannesburg op te neem. Ek was bevoorreg om saam met die regisseur Henry Philemon te werk.”

Deurgedra

Henry is ook lid van die orkes wat saam met die gewilde musikant Donay optree.

Dis Herbie se vierde album en hy het ’n groot verwagting dat die album goed sal vaar. Volgens hom is dit baie moeilik in die musiek­bedryf, veral as jy nog nie so bekend is nie.

“Daar was baie dae dat ek wou moed opgee, maar die musiek van Jonathan Butler, Earl Klugh en George Benson het my deurgedra.

“My boodskap aan die jeug is dat ons elkeen ’n gawe ontvang het. Ontdek dit en gebruik dit positief. Bly weg van bendes.

“Met harde werk kan jou drome waar word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters