Verlede jaar
‘G’n voorsorg, nou fiasko’
gee woord: Japie Sonqyi sê ná verlede jaar se brande het hy die munisipaliteit gewaarsku teen ’n moontlike ramp.  ~ 

DIE tragedie in Karatara kon dalk verhoed gewees het – as die munisipaliteit net ag geslaan het op sy bekommernisse.

Só voel die 74-jarige Japie­ Sonqyi, ’n inwoner van Karatara.

Sonqyi sê hy het 23 jaar vir die destydse departement van bosbou gewerk.

Hy het ná laas jaar se brande in Knysna ’n brief aan die Knysna-munisipaliteit gerig waarin hy verskeie kwessies uitgelig het.

“Ek het aan die Knysna-munisipaliteit gesê die 2017-brand behoort vir ons ’n wake-up call te wees en dit moet maak dat ons sekere maatreëls in plek moet sit.

“Ons braaiplekke was baie naby aan ’n beboste gebied. Dit kan ’n brand veroorsaak.

“Daar was ook nie veel van ’n vuurbaan (droë strook grond) wat ons sou kon beskerm as ’n brand uitbreek nie.

“Wat my ook baie gepla het, was dat inwoners nie enige opleiding ontvang het oor hoe om op te tree en te reageer as ’n brand uitbreek nie.

“Ons weet mos as mense begin panic, dan word daar nie helder gedink nie. Ek het voorgestel dat dit ’n blink idee sou wees om mense in dié verband in te lig.”

Sonqyi sê hoewel die munisipaliteit ontvangs van sy brief erken het, was daar g’n daadwerklike optrede nie.

“Die munisipaliteit het gesê hulle gaan iemand stuur. Ene Roger het my gekontak, maar daarna het ek niks weer gehoor nie.

“Hier in Karatara het ons ’n brandbaan nodig wat minstens 40 m breed is. As dit in plek was, sou van ons huise en vrugteboorde nie gebrand het nie.”

  • Chris Bezuidenhout, woordvoerder van die Knysna-munisipaliteit is Donderdag om kommentaar genader. Teen druktyd het hy nie van hom laat hoor nie.

Weens die brande is sowat 1 500 mense gedis­place en 65 000 ha grond is verwoes.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters