Verlede jaar
Dump dryf bure uit teen mure
murasie: Die huis is nie net onooglik nie, dit kan op mense intuimel. Foto’s: clive pretorius  ~ 

HEIDELBERG. – Terwyl baie inwoners van dié dorp smag na ’n huis van hul eie, is een huis hier al sowat 20 jaar halfklaar.

Veral nabye bure is raadop omdat die huis leegstaan en al erg gevandaliseer is.

Die huis in Nicholls Crescent, Joe Slovo Park, dien nou as bymekaarkomplek vir menige jeugdige. Vele van hulle is hoërskoolleerders.

Volgens van die bure hou dié leë huis vir hulle almal ’n groot veiligheids- en gesondheids­risiko in.

Wat hulle verder bekommerd maak is, is dat vele onsmaaklike elemente dit misbruik vir hulle antisosiale bedrywighede.

Hulle gebruik dwelms daar en misbruik drank.

Groot skade is reeds aan die huis aangerig. Al die deur- en vensterrame is heeltemal vernietig. Van die dakplate is ook erg verniel. Hierdie skade beloop duisende rande.

Elke vertrek is met menslike ontlasting besaai en daar heers alewig ’n erge stank.

Die jeugdiges gebruik dit duidelik ook as ’n seksnes; ’n horde kondome en ander toebehore is in die bouval te sien.

Volgens van die bure stel die huis se eienaar nie daarin belang om die erf behoorlik te omhein nie.

“As hy darem net die plek ordentlik wil omhein, sal dit klaar ’n afskrikmiddel vir die jeugdiges wees,” het die bure duidelik vies benadruk.

Son op Sondag het die eienaar sowat drie keer oor die kwessie gebel.

Hy het gesê hy is besig met ’n aansoek vir behuisingsvoor­dele wat aan voormalige weermag­lede voorsien word.

Die huiseienaar het egter ook benadruk die inwoners moet hulle kinders dissiplineer en hulle leer om nie ander mense se persele te betree nie.

Teen verlede week is nog niks konkreets gedoen om die plek te beveilig nie.

Die plaaslike munisipaliteit is vir kommentaar genader.

Hannes Geldenhuys, ’n bou­beheerbeampte, het bevestig dat van die bure hom gevra het om die erf te besoek.

Volgens Geldenhuys het hy op 27 Februarie ’n inspeksie gedoen. Op 4 Maart het hy ’n geregistreerde kennisgewing aan die eienaar gestuur om die bouwerk binne 21 dae te hervat en te voltooi.

“As die eienaar nie gehoor gee aan die kennisgewing nie, sal die aangeleentheid oorhandig word aan die Hessequa-munisipaliteit se regsafdeling. Die versoek aan die hof sal wees om die struktuur te mag sloop.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters