7 maande gelede
DA-hoës se ‘vete oor parking lelik’
in die dock: Johan Stander, die beskuldigde in die parkeer-saak, Donderdag voor die George-landdroshof afgeneem.Foto: eugene gunning  ~ 

GROTER duidelikheid oor watter rigting die saak beweeg tussen twee DA-lede van die George-stadsraad wat oor ’n parkeerplek baklei het, sal eers op 13 Maart verkry word.

Die saak het Donderdag in die George-landdroshof begin. Ná ’n paar uur van getuienis is dit uitgestel.

Die voorval het in Oktober 2016 in die munisipale parkeerterrein gebeur. Johan Stander het na bewering vir Gert Niehaus, ’n kollega, gestamp en gevloek.

Niehaus het Dinsdag, twee dae voordat die saak begin het, uit die DA en as raadslid bedank.

Stander ontken al die aanklagte teen hom. Stander se regsverteenwoordiger, Eckert Brand, voer aan daar was provokasie en Niehaus het sy kliënt gevloek deur vir hom te sê “f*kk*f”.

Koester

Niehaus het reeds getuig en na verwagting sal Stander op 13 Maart getuig.

Gedurende Donderdagmiddag se hofverrigtinge het Brand sy kruisondervraging van Niehaus voortgesit.

Hy het dit aan Niehaus gestel dat hy in ’n koerantberig gesê het hy koester geen kwade gevoelens jeens Stander nie.

Niehaus het dit bevestig.

Brand wou toe by Niehaus weet hoekom hy met ’n aanklag van naamskending voortgaan.

Niehaus het verduidelik hy en Stander is beslis nie vriende nie, maar dat hulle as kollegas in die raad moes saamwerk.

Landdros Götz Essel wou weet hoe lank hulle in die stadsraad saamwerk en of daar voorheen sulke voorvalle was.

Niehaus het gesê hulle is sowat ses jaar kollegas. Volgens hom was Stander ná die munisipale verkiesing in 2016 baie ongelukkig.

In ’n stadium was daar ’n omruiling van poste in die burgemeesterskomitee.

Hy het toe aan Stander gesê hulle moet saamwerk. “Almal weet Johan (Stander) het ’n kort humeur,” het hy getuig.

Belrina Cornelius, ook ’n DA-raadslid, het getuig oor die gebeure op die tweede verdieping van die munisipale gebou. Dit was ná die woordewisseling tussen Niehaus en Stander by die parkeerplek.

Volgens haar het Stander vir Niehaus gesê: “Gert, jy soek mos nou moeilikheid. Ek gaan jou moer.”

Sy het getuig: “Dit wat daar afgespeel het, was lelik.”

Essel het dit aan haar gestel ander getuies het ontken dat Stander gevloek het.

Essel wou weet oor verskillende faksies in George se DA.

Cornelius het gesê sy is nie ’n leuenaar nie. “Ek vat nie part nie. Ek praat die waarheid. Daar is nie faksies by my nie. Ek behoort aan die DA.”

Die hof het ook na ’n video van die voorval gekyk.

Opname

Brand wou nie toelaat dat lede van die media daarna kyk nie nieteenstaande dat dit ’n openbare hofsitting was.

Niehaus, Stander, Essel, die staatsaanklaer, Desh Padayachee en Brand het saam na die opname gekyk.

Padayachee het daarna aangedui sy is van voorneme om ’n mediese dokter oor Niehaus se beserings te laat getuig.

Die dokter is in die buiteland en sal eers in Maart beskikbaar wees. Sy het gevra dat die saak uitgestel word.

Brand het beswaar gemaak. Volgens hom is daar nie ’n verband tussen Niehaus se beserings en die voorval nie.

Essel het gesê hy verstaan almal wil die saak afgehandel hê. Hy het ander verpligtinge en sal eers in Maart beskikbaar wees.

Die saak is tot 13 Maart vir afhandeling uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters