4 maande gelede
Blou teen blou laat dienste ly
stil: Mark Willemse is in die kruisvuur. Foto verskaf  ~ 

BINNEGEVEGTE in die DA in die Knysna-munisipaliteit is ’n skop in die knaters vir dienslewering in dié Suid-Kaapse dorp.

Só meen die Wes-Kaapse ANC-sekretaris, Faiez Jacobs, nadat die DA dissiplinêre stappe teen die burgemeester, Mark Willemse, ingestel het.

Dié stappe kom nadat Willemse net ’n paar weke gelede aangestel is ná ’n mosie van die ANC wat ook deur sommige DA-raadslede ondersteun is.

Die provinsiale DA-leier, Bonginkosi Madikizela, het Willemse sedertien gevra om te bedank, want die mayor is glo “op ’n ANC-mandaat” aan bewind gebring.

Willemse weier volstrek en hou vol hy is daar om Knysna se inwoners te dien.

Die DA-kiesafdelingshoof in Knysna, Alan Winde, sê vandeesweek aan Son op Sondag daar is twee DA-faksies in die Knysna-munisipaliteit.

Volgens hom het die een faksie teen die ander gedraai en die ander met die hulp van die ANC uitgestem.

Hy sê die twee wat saam met die ANC gestem het, het poste gekry – Willemse as mayor en Peter Myers as lid van die burgemeesterskomitee.

Winde sê: “Die DA is tans besig met dissiplinêre stappe teen die twee. Hulle is steeds DA-lede, maar ons kan nie so ’n situasie toelaat nie.”

Volgens Winde het die raad onlangs die munisipale bestuurder geskors, maar hy weet nie waarom nie.

Jacobs meen die rede is bloot dat die binnegevegte ’n krisis in die raad laat ontstaan het.

“Die hele raad het weens die DA se binnegevegte in ’n sirkus ontaard,” sê hy.

“Dis waarom so baie diensleweringsbetogings in die dorp plaasgevind het.

“Huise is nie gebou nie. Die begroting word nie aangewend nie. Ons as die ANC support nie vir Willemse nie.

“Dis nie ons geveg nie. Dis die DA se geveg en ons kies geen kant nie. Die ANC sit nie agter die protesaksie nie.

“Die mense betoog weens die gebrek aan dienslewering. Daar is geen stabiliteit nie.”

Winde stem saam die situasie in die raad het ’n impak op dienslewering gehad.

“Natuurlik gaan daar ’n impak wees op dienslewering waar daar nie stabiliteit is nie,” sê Winde.

stem saam: Alan Winde erken daar is onstabiliteit in die Knysna-munisipaliteit.
stil: Mark Willemse is in die kruisvuur. Foto verskaf
sien rooi: Faiez Jacobs sê die DA se binnegevegte is die oorsaak van betogings oor dienslewering.Foto’s: Peter Abrahams

Willemse sê hy gaan kommentaar lewer sodra die dissiplinêre verhoor teen hom afgehandel is.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters