Verlede jaar
Aksiegroep is upset oor kampplek
maak werk: Debbie Sauer sê die George-munisipaliteit gee tans aandag aan die strand.Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

’N BESORGDE aksiegroep van Gwaingriviermond in Pacaltsdorp is baie ontevrede.

Blanche Benjamin, een van die groep se lede, sê hulle familiekamp is al vir 100 jaar by die strand en dit breek haar hart om te sien hoe hulle behandel word.

“Ons veg nou al 10 jaar vir dienslewering by die strand, maar alles val op dowe ore.”

Benjamin vertel elke jaar as dit naby die feestyd kom, dan kom sny die George-munisipaliteit net die gras.

“Die infrastruktuur word nie behoorlik na omgesien nie, terwyl strande soos Victoriabaai en Heroldsbaai voorkeur geniet.

“Dit laat my voel ons strand is vergete, terwyl die strand jaarliks deur besoekers van regoor die wêreld besoek word.

“Dis ons juweel en erfenis en die gemeenskap van Pacaltsdorp het tot in die hooggeregshof in Kaapstad gaan baklei vir vrye toegang.”

Hart

Braam Amerika, ook ’n lid van die aksiegroep, sê die George­-munisipaliteit lig nie die gemeenskap van Pacaltsdorp in oor wat tans by die strand aangaan nie.

“Dis onaanvaarbaar, want die strand lê ons almal na aan die hart en dis hoog tyd dat die inwoners van Pacaltsdorp eienaarskap verkry,” sê Amerika.

Hy wei uit: “Daar sou vanjaar opgraderings plaasgevind het by die strand, maar niks is gedoen nie en die gemeenskap voel genoeg is genoeg!

“Die burgemeester het op ’n vergadering belowe dat daar na Gwaingriviermond omgesien gaan word, maar tot op hede het daar nog niks gebeur nie.”

’n Woordvoerder vir die George­-munisipaliteit, Debbie Sauer, sê Walter Hendricks, direkteur van gemeenskapsdienste, het bevestig sy departement is besig om die ablusiegeriewe by Gwaingriviermond op te gradeer, gras aan te plant en meer.

“Die swembad wat beoog word om aangebring te word, sal eers in volgende jaar voltooi kan word, aangesien geld uit die raad se begroting eers in Augustus beskikbaar geraak het,” het Sauer verduidelik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters