Verlede jaar
2 Kom nog wat ook met visbedryf te doen het.
stop: Die vang van stokvis hang vir eers aan ’n lyntjie. Foto: NETWERK24  ~ 

MOSSELBAAI se visbedryf is tot ’n stilstand geruk nadat die Kaapse hooggeregshof beslis het dat stokvis vir eers nie gevang kan word nie.

Die besluit is in Januarie deur die hooggeregshof geneem nadat Viking Fisheries die nasionale departement van landbou, bosbou en visserye hof toe gesleep het oor die hoeveelheid stokvis wat die maatskappy kon vang.

Die nasionale departement het dié maatskappy se toekenning om stokvis te vang met sowat 60% gesny.

Viking Fisheries het die hooggeregshof gevra om alle toekenningsprosesse vir nuwe vissers-permitte in die area stop te sit totdat hul appèlproses teen hul allokasie afgehandel word.

Eers na die appèlproses afgehandel is, kan die nasionale departement weer stokvis-permitte aan vissermanne in Mosselbaai toeken.

Maar dit het gelei tot honderde vissermanne wat sedert Januarie by die huis sonder kos en geld sit.

Lionel Brown (42), een van die eienaars van BMC Visserye in Mosselbaai, sê die hofsaak het die hele visbedryf in die area gestop.

“Hoekom kan ons wat reeds permitte het, nie aangaan met stokvis vang nie,” wil hy weet.

Brown sê Viking Fisheries het selfs in sy hofdokumente gevra dat bestaande vissermanne voort kan gaan om stokvis te vang terwyl sy geskil met die nasionale departement uitgesorteer word.

Hy sê meer as ’n 1000 vissermanne kan nou niks vis vang nie. “Dit affekteer ook fabriekswerkers en besighede wat gekoppel is aan die visbedryf.

“Ons mense het Januarie laas hul skuld betaal. Kinders se skoolfooie kan nie betaal word nie en daar kan nie kos op die tafel gesit word nie,” sê Brown.

Hy sê vissermanne in Mosselbaai kan nie eens gaan stroop soos in ander areas nie.

“Want ons kort groot bote om op die see uit te gaan om stokvis te vang, want jy vang 100 seemyl van die wal af,” sê hy.

Brown se maatskappy het 22 vissermanne en 10 bemanningslede op land, wat die vis aflaai, wat almal in Januarie laas ’n salaris verdien het.

“Ons bote staan stil en ons wag maar vir die departement. Ons kan niks anders doen nie.”

Gert Christie (52), gemeenskapswerker en ondersteuner vir die Mosselbaaise-vissersgemeenskap, sê vissermanne in die area is al van 28 Desember werkloos. “Families is uit mekaar geskeur en kinders moes die skool verwaarloos.”

Hy vertel van ’n 15-jarige meisie wat die werk gelos het, want haar pa, ’n visserman, kan nie die skoolfooie bekostig nie.

“Ek wil hê die minister (Senzeni Zokwana) moet na Mosselbaai kom en kom sien wat die impak op ons lewe is,” sê Christie.

Mervin Hendricks, ’n Mosselbaaise visserman vir 34 jaar, sê die hofuitspraak het sy familie geknak. “Ek kyk na vier mense. My kinders is in matriek en ek kan hulle met niks bystaan nie.

“Die pad vorentoe vir ons kleinskaalse vissermanne in Mosselbaai is ’n groot kommer,” sê Hendricks.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters