Verlede maand
Vele grootmense huil nes kinders
troos: Rouklaers troos die seun se ma (middel) toe sy in trane uitbars. Foto’s: THEO JEPTHA  ~ 

‘WANNEER hy my hoor aankom met my krukke, dan het hy vinnig na my toe aangekruip gekom met ’n smile.”

So het ’n huilende Pieter Uithaler Vrydagoggend op die begrafnisdiens van ’n tweejarige seun van Barcelona in die Baaise Northerns gesê.

Die seun is dood nadat hy met ’n stomp voorwerp aangerand is.

Sy ma se eks boyfriend (25) staan tans tereg op ’n klag van moord.

Die kind se identiteit kan nie bekend gemaak word nie omdat sy ma verkrag is terwyl sy op pad was na die Livingstone Hospitaal, waar haar seun gelê het.

Onderskraag

Die Helenvale Resource Centre was Vrydag volgepak toe ’n ieder en ’n elk hulle respek betoon het.

Volwassenes het soos kindertjies geween en mekaar onderskraag.

Uithaler – ’n buurman van die kind se familie – het in ’n hartroerende huldeblyk gesê die seuntjie was ’n lieflike kind.

Volgens Uithaler het hy baie by die kleintjie se ouerhuis aangedoen.

“Hy het baie gesmile. Ek het hom sommer begin Smiley noem.”

Volgens Uithaler het hy en sy vrou net dogters en wou hy so graag die laitie as sy eie hê.

“Hy het lief geraak vir my. Ek het soos ’n pa vir hom gevoel. Sodra ek wou loop, dan wou hy my nie los nie.”

Uithaler het huilend vertel: “Ek het nog nooit die voorreg gehad om na ’n seun om te sien nie, en nou gaan ek ook nooit die voorreg hê nie.

“Ek voel jammer dat ek nie daar was vir hom nie. As ek daar was, kon ek hom gesave het.”

Uithaler het vertel toe die laitie in ’n stadium siek was, het hy deur dit nog gesmile.

Kort nadat Uithaler ’n solo-liedjie aan die seuntjie gesing het, het hy aan sy coffin geraak en gesê: “Bye, Seun.”

Vasgevang

Past. Derrick Williams het aan die familie gesê vergifnis is nie ’n maklike ding nie.

Hy het die familie gevra om te vergewe, want as jy nie bereid is om te vergewe nie, dan gaan jy vasgevang bly.

Williams het bygevoeg die mens moet vergewe sodat hy kan loskom en vry wees.

Die trane het vryelik gevloei toe rouklaers die seuntjie se lyk besigtig het.

Toe dit die beurt van die seuntjie se ma was, het sy vooroor geleun en hom ’n soentjie gegee.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters