3 maande gelede
Uprising: ‘bad’ herinneringe
terugflits: Die polisie het altesaam 59 slagoffers in die Northern Areas Uprising van 1990 doodgeskiet. Party is ook eers gemartel.  ~ 

SY KLERE is van sy lyf geskeur en sy hemp het net een mou oor gehad.

So vertel ’n bewoë Bettie Hendricks (47) aan Son op Sondag oor haar pa se lot in die Northern Areas Uprising van 1990.

Hendricks onthou met pyn in haar oë dat haar geliefde pa, Ruiter Nel (59), dood is gedurende die Up­rising.

Die 28ste herdenking van die Uprising is Maandag met ’n kranslegging in die Papenkuilbegraafplaas in Standfordweg gehou.

Die slagting het op 6 Augustus begin en ses dae daarna was daar nog onrus in die Baai se Northern Areas.

Altesaam 59 inwoners het hul lewe verloor in ’n gebeurtenis wat hul gesinne se omstandighede in ’n oogwink vir altyd verander het.

Die Uprising het ontstaan toe bruin inwoners ontevrede geraak het daaroor dat huurgeld verhoog is.

Hulle het dit geboikot en wou hul ontevredenheid met ’n optog duidelik maak.

Godfrey Ackley, wat die voorsitter van die Northern Areas Uprising Committee (NAUC) is, het die vreedsame betoging gereël.

Ackley sê die nodige toestemming vir die optog is verkry. Daarna het meer as 3 000 inwoners daaraan deelgeneem.

Misdadige elemente het egter die situ­asie uitgebuit deur ’n hele rits winkels te plunder.

Dit is toe dat die polisie­ op die skare losgebrand het.

Hendricks het dié week die eerste keer teenoor die media ontboesem oor haar pa se marteldood.

Sy vertel: “My pa was op 6 Augustus op pad van die werk af toe die polisie hom gegryp, wreed gemartel en vermoor het. Hulle het hom ook van die Casspir afgegooi.

“Later het ons ’n beskrywing van hom in die koerant gelees. Daar is geskryf ’n lyk is by die Windvogel-terminus gekry, dat die persoon gemartel is en dat hy ’n koeëlwond in die bors het.

“Die polisie het gesê ma pa se lyk is by die Gelvandale-polisie­stasie en dat hulle na die naasbestaandes soek.

“My ma en suster moes die liggaam gaan uitken.

“Sy klere is van sy lyf geskeur en sy hemp het net een mou oor gehad. Daai stukkie hemp was vol bloed.”

leemte: Die slagoffers van die Northern Areas Uprising in 1990 sal altyd in hul geliefdes se gedagtes wees.
Godfrey Ackley
David abrahams
dis bitter: Bettie Hendricks kyk toe terwyl Charles Hans ’n blommekrans by ’n grafsteen lê as huldeblyk aan ál die slagoffers van die Uprising.Foto’s: DEON FERREIRA
terugflits: Die polisie het altesaam 59 slagoffers in die Northern Areas Uprising van 1990 doodgeskiet. Party is ook eers gemartel.

Hendricks sê haar pa het altyd gesorg dat hulle brood op die tafel het.

Sy vertel: “Ek moes gaan werk soek en het een gekry in Jeffreysbaai. My ma-hulle is in die mean­time by hul huis uitgesit.

Huil

“Sy het toe herberg gekry by haar skoonmense. Ek moes my werk los om na haar om te sien, want sy was ’n asmalyer.”

Hendricks sê sy dink baie aan haar pa en huil nou nog oor hoe hy dood is.

Derick Abrahams (27) is ook ’n slagoffer van die Uprising. Twee van sy drie kinders kon ná Abrahams se dood weens geldprobleme nie hul skoolloopbane voltooi nie.

Sy hartseer pa, David (81), sê: “Hy was daar toe die winkels geplunder is in Gelvandale.

“Hy was in die pad toe hy geskiet is op 8 Augustus. Die rent is baie hoog opgeskuif. Almal was betrokke by die boikot.

“Die polisie se security branch het op die plunderaars geskiet, en my kind het in die slag gebly.”

David sê in ’n bewerige stem: “Hy is agt keer geskiet en in die laerug getref. Die outopsie het gesê die koeëls het regdeur sy onderlyf gegaan.”

Die pa vertel hy moes sy seun se drie kinders grootmaak, maar dat hy net die oudste deur matriek kon kry...

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters