2 maande gelede
Studente, bestuur stryk probleme uit
Zandile MbabelaFOTO VERSKAF  ~ 

’N CLEARING House­ is gestig nadat die ongelukkige studente van die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) met die bestuur vergader het.

Dié struktuur sal met studente se kwessies op ’n individuele basis werk.

Dit sal bestaan uit die studenteraad, die departement van finansies, studentesake, akademiese administrasie en studente-berading.

Studente het dié week betoog deur die Noord- en Suid-kampus se ingange met takke en brandende bande te blokkeer. Die South African Students Congress (Sasco­) het dit gereël.

Studente is ongelukkig oor van hulle nog nie geregistreer is nie en daarom nie enige studente­akkommodasie het nie.

Die studente is ook ongelukkig oor sekere aspekte van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS).

Zandile Mbabela, ’n NMU-woordvoerder, sê die studente het verskeie kwessies op Donderdag se vergadering uitgelig.

Daar is op die volgende besluit:

  • Meesters- en doktorale studente wat akademies pres­teer, wat gekwalifiseer het vir finan­siële toegewings vir hul voorgraadse studies (en wie se verwagte familiebydrae nul is), sal geregistreer word;
  • ’n Aanpassing is gemaak om die persentasie wat vereis word vir nagraadse befondsing, in lyn te bring met die nagraadse toelatingsvereistes;
  • Die aanmelding van studente wat swak presteer het weens die verlies van NSFAS-finansiering, sal hersien word;
  • Die registrasie en akkommodasie van die meeste van die studente wat aansoek gedoen het deur die Central Application Clearing House (CACH)-sisteem is nou opgeklaar. Diegene wat nog nie die uitkoms van hul aansoek gehoor het nie, kan die intervensie van die universiteit se Clearing­ House aanvra;
  • Administratiewe onreël­matighede sal ondersoek word.

Mbabela sê studente mag steeds hul spesifieke kwessies na die afdelings vir studenterekeninge en finansiële bystand neem. Indien die kwessies nie na wense opgelos word nie, kan dit onder die aandag van die Clearing­ House gebring word.

“Twee sake rakende die akademiese programme is ook uitgelig. Die eerste een het te doen met 2018 se Higher Certificatestudente wat nog ’n paar modules moet voltooi en daarom nie kwalifiseer vir NSFAS-befondsing nie. Dié studente mag by hul onderskeie fakulteite appelleer vir heroorweging en moontlike opeenvolgende registrasie vir diplomastudies.

Beïnvloed

“Die tweede kwessie handel oor studente wat nie voldoen het aan slaagvereistes vir hul voorvereiste modules nie, wat hul registrasie vir die jaar impakteer.

“Dít mag ook die verkryging van NSFAS-befondsing beïnvloed. Studente mag ook appelleer by hul onderskeie fakulteite vir heroorweging,” sê Mbabela.

Toetse en eksamens wat deur die ontwrigtinge geaffekteer is, sal herskeduleer word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters