14 dae gelede
Slaagsyfer op ondanks erge geweld
Ralph JacobsFoto’s: THEO JEPTHA  ~ 
Gregory Prince

HOEWEL die matriekslaagsyfer van skole in die Baai vir 2018 op 76,1% staan, is daar steeds skole in die Northerns wat gebuk gaan onder bendegeweld.

Dit het veroorsaak dat die matriekleerders nie die gewenste slaagsyfers behaal het nie.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het Donderdagaand die nasionale matriekuitslae aangekondig­.

Son op Sondag het ’n draai by ’n paar skole gaan maak.

By die Sekondêre Skool Booysenpark vertel die skoolhoof, Ivan Martins, dat die slaagsyfer onder matrikulante ongelukkig met 8,2%

Ivan Martins

gedaal het van 2017.

Vir 2018 het slegs 33 uit 92 matrikulante hulle jaar deurgekom. Dit wil sê die slaagsyfer staan op 35,8%, teenoor die 44% in 2017.

“Die grootste uitdagings is die maatskaplike invloede, soos bendegeweld. Daar is groepe wat teen mekaar baklei en dit spoel oor na die skool toe.

“Ons kinders gaan dood – ons het verlede jaar drie leerders verloor,” sê Martins.

Hy voeg by daar het verlede jaar ses onderwysers by die skool klaargemaak.

Ralph JacobsFoto’s: THEO JEPTHA

“Die ouers ondersteun hulle nie genoeg nie – leerders voel hulle is alleen. Dit het ’n impak op leerders se gemoedstoestand.

“Gelukkig het die onderwys­departement nou die leerders die geleentheid gegee om hulle uitslae te verbeter.”

Drie leerders by Booysenpark het weggestap met onderskeidings.

By die Hoërskool Arcadia het die matriekslaagsyfer met ’n stewige 9% verbeter.

Gregory Prince, die hoof, sê van die 30 leerders wat geskryf het, het 19 geslaag. Dit beteken die slaag­syfer is 63,3% vergeleke met 2017 se 54%.

“Daar was baie uitdagings en dit was taamlik violent verlede jaar.

“Die geweld het die kinders geraak en daar was veral in November tydens die eksamens baie skietery.”

Die skool het verlede jaar twee studiekampe en inligtingsessies vir die gr. 12-leerders aangebied.

Ralph Jacobs, die hoof van die Bethelsdorp Comprehensive School, is tevrede met hulle slaag­syfer van 77,4%.

“Uit die 70 matriekleerders het 54 geslaag en 16 gedruip.

“Ons wil graag ’n 100%-slaagsyfer bereik.

“Ons onderwysers het Saterdae gewerk om die leerders te help en daar was ook ’n winter- en lenteskool.”

Jacobs meen egter die ouers se belangstelling laat veel te wense oor.

Hy sê ouervergaderings word swak bygewoon en die ouers maak nie seker dat hulle kinders hulle huiswerk en take doen nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters