Verlede jaar
Skelm ANC-raadslid dalk sy pos kwyt
KROEK: Bongo Nombiba is in die Baaise handelshof skuldig bevind aan bedrog. Foto: THEO JEPTHA  ~ 

DIE ANC-raadslid van wyk 20 in Nelson Mandelabaai is gister in die Baaise handelshof skuldig bevind op klagte van geldwassery en bedrog.

Bongo Nombiba het R20 000 van sy wyk se diskresionêre fonds vir persoonlike doeleindes misbruik.

Afgevaardigdes van die Thula­mangwane-gemeenskapsprojek, ’n organisasie sonder winsbejag in KwaZakhele, het Bongo in 2014 genader vir ’n donasie van R10 000.

Bongo het hulle gevra om hul versoek op skrif te stel, maar sonder om enige bedrae te noem. Hy’t toe ’n versoek vir die geld aan die hoofsweep van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit gerig en R30 000 namens Thulamangwane aangevra. Die R30 000 is in die organisasie se rekening inbetaal.

Bongo het hulle laat weet en hulle gevra om saam met hom bank toe te gaan. Hy het hulle by die bank in kennis gestel hul R10 000 is inbetaal en die res van die geld behoort aan hom.

Hy wou dié dag by die bank net R13 000 van die geld hê. By ’n ander geleentheid is R7 000 uit die rekening onttrek.

Ontkenning

Landdros Johannes Claassen het in sy uitspraak gesê Bongo het as getuie nie ’n goeie indruk gemaak nie. Hy’t hom as ’n ontwykende en stryerige getuie beskryf. Die hof moes hom tydens sy getuienis waarsku.

Claassen sê sy weergawe was ’n blatante ontkenning dat hy ooit die geld ontvang het. “Ek vind dit vreemd dat hy volgens sy eie weergawe nie gekyk het na die brief voordat hy dit by die Metro ingedien het nie.”

Bongo het voorgehou die brief het op sy lessenaar beland en hy’t dit by die Metro ingedien sonder om daarna te kyk.

Claassen het ook genoem sekere dokumentasie met verwysing na datums wat voor die hof gebring is, bewys dat die volgorde van gebeure nie kon plaasvind soos deur Bongo voorgehou nie.

“Ek verwerp dus sy ontkennings en bevind dat dit nie redelik moontlik waar kan wees nie.

“Hy het wel aan die munisipaliteit voorgehou die organisasie het R30 000 nodig, terwyl dit toe net R10 000 was.”

Bongo se skuldigbevinding het vrae laat ontstaan of hy uit sy amp as raadslid verwyder sal word.

Athol Trollip, burgemeester van Nelson Mandelabaai, het gesê mense sal moet wag vir die vonnisoplegging. “As hy tot 12 maande of meer gevonnis word sonder die opsie om ’n boete te betaal, gaan hy as raadslid verwyder word.

“Hy het munisipale geld gesteel. Dit is selfs meer kommerwekkend.”

Bongo was gedurende sy verhoor op waarskuwing. Hy is ná sy skuldigbevinding op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Die batebeslagleggingseenheid het gister ’n aansoek voor die hof gebring om op Bongo se bates beslag te lê.

Claassen het ’n proefbeampte­verslag aangevra. Bongo moet weer op 26 April in die hof verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters