2 maande gelede
Sentrum sê gesin moes uit ná reëls verbreek is
Nadia JacobsFoto: VISTARUS.CO.ZA  ~ 

NADIA Jacobs, skakelbestuurder by Vistarus Mission Centre in die Baai, bevestig dat Carmen Saffier en haar drie kinders sedert September 2017 verniet by hulle gewoon het.

Die verblyf het drie gratis maaltye per dag ingesluit, asook toiletware, klere en ander benodigdhede.

Volgens Jacobs het hulle ook die kinders voorsien van ál hulle skoolbenodigdhede.

Jacobs sê hulle het met Legal Aid ooreengekom dat hulle die gesin drie weke grasie sal gee om ander blyplek te kry.

Sy sê Carmen het in die drie weke geen pogings aangewend om een dag uit te gaan om ander verblyf te gaan soek nie.

Oortree

“Vandat hulle by Vistarus was, was daar absoluut geen verandering in hul lewens nie. Daarom, as reëls verbreek word en hulle nie saam met ons stelsel werk nie, kan hulle ongelukkig nie bly nie. Daar is baie mense wat regtig desperaat is vir hulp,” sê Jacobs.

Oor die reëls wat oortree is, sê Jacobs dat Carmen se seun ’n seksuele verhouding met ’n minderjarige skooldogter daar aangeknoop het.

Hy’t glo positief getoets vir dagga en het dagga op die perseel gebring en aan een van die mans gegee wat deel van hul Alcohol and Drug Addiction-program is.

Geweld

Sy sê Carmen het ook al sonder toestemming uitgebly en uitgeslaap.

Oor die seun se aanranding sê Jacobs die saak word in die hof hanteer. “Van ons kant af (wat deur ooggetuies gesien is) glo ons dis ’n valse aantyging. Ons laat geen geweld toe op ons perseel nie. Dit is deel van ons reëls.

“Die seun het nóg ’n reël verbreek waar hy sy ma en sussie fisiek aangerand het.

“Carmen het toe gevra dat ons hom skuif na ’n mans-bungalow. Ons het gedoen soos sy gevra het en hy’t aanhou moeilikheid maak. Hy’t die mans uitgetart en geweier om na enige leiers te luister.”

Jacobs voeg by daar woon 350 mense op die perseel van wie 90 kinders is, en daarom is dit van groot belang om dissipline te handhaaf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters